SuperSport Schools Plus

Diamantveld se Du Raan ‘n ware diamant vanuit Douglas op die netbalbaan

By Charne van der Merwe , in Netball | Featured Netball | News , at 2023-07-13 Tags: ,

Mari du Raan

Mari du Raan (17) van Hoërskool Diamantveld in Kimberley, is gekies om deel te wees van Suid-Afrika se o.18A Fast 5-netbalspan by die komende Statebondspele.

Hierdie plattelandse meisie kom uit ‘n klein boeregemeenskap, Douglas, en het nog altyd besonderse talent op die netbalbaan getoon.

Nadat Du Raan vir die eerste keer op die ouderdom van ses ‘n netbalbal opgetel het, het sy nog altyd ‘n plek in haar skool se eerstespan verseker, en haar vasberadenheid het daartoe gelei dat sy ‘n deurslaggewende speler in die span geword het.

Gedurende haar gr. 10-jaar is sy as die hoofdoel van die skool se eerstepan gekies.

Fast 5-netbal, ‘n opwindende variant van die sport, wyk af van die tradisionele formaat deur die aanvallende vleuel en die verdedigende vleuel van die baan uit te sluit.

Slegs vyf posisies is op die baan, en die unieke reëls en puntestelsel maak dit ook opwindend.

In Fast-5 tel doele vanaf verdere afstande meer punte, met een punt toegeken vir doele binne die doelsirkel en drie punte vir doele wat buite die sirkel gedoel word.

Du Raan is opgewonde oor haar eerste oorsese ervaring en sien uit om haar land op ‘n internasionale vlak te verteenwoordig.

Sy beskou dit as ‘n geweldige eer en ‘n droom wat waar geword het.

Du Raan se netbalreis is reeds merkwaardig, en sy was ook in 2022 in Suid-Afrika se o.17A-span ingesluit.

‘n Span van twaalf spelers is uit die SA o/17- en o/18-spanne gekies gevolg deur verdere proewe, na ‘n oefenkamp, om die finale groep te bepaal.

Du Raan was onder die tien uitsonderlike spelers wat gekies is om hul land met trots oorsee te verteenwoordig.

Haar droom is om eendag vir die Protea-netbalspan te speel, asook ook om ‘n rolmodel vir aspirant-netbalspelers te word. Sy hoop om ander te inspireer om hul drome na te streef en te wys dat wanneer jy in jouself glo, enigiets moontlik is.

In Du Raan se opkoms na sukses het die onwrikbare ondersteuning van haar ouers, Leonrad en Mariaan, ‘n belangrike rol gespeel. Hulle staan trots op die kantlyn en skree vir hul dogter se prestasies. Du Raan erken sonder hul liefde en aanmoediging sou sy nie die groot hoogtes in haar netballoopbaan bereik het nie.

Magda Myburg, Du Raan se netbalafrigter by Hoërskool Diamantveld, was sedert sy by Diamantveld begin het, ‘n ware rolmodel vir haar.

Boonop erken Du Raan die onskatbare bydrae van haar kondisioneringsafrigter, Leon van Blerk. Danksy sy leiding en harde werk kan Du Raan ten alle tye op haar beste op die baan presteer.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.