Derde agtereenvolgende eindstryd wink vir Bere
Die Garsie-Bere en verdedigende kampioen kan vir ‘n derde agtereenvolgende keer in die SDC Noordvaal Cup se Beker-eindstryd verskyn.
Volg al die Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of Kanaal 216.
In ‘n herhaling van die laaste rondomtalie-wedstryd in vanjaar se reeks, speel Hoërskool Garsfontein weer gasheer vir Hoërskool Dr. EG Jansen se Arende.
Die Bere het hul oorheersing oor die Jansies verlede naweek op Berepark benadruk met ‘n oortuigende sege van 39-14. Dit was ook die Boksburgers se eerste nederlaag in vanjaar se kompetisie, maar verander geensins die feit dat die Bere steeds lugtig vir die Arende is nie.
“Verlede naweek tel nou niks nie; dit is uitspeelrugby dié en bring nuwe uitdagings,” het Johan du Plessis, die Garsies se afrigter gesê.
“Ons doelwit was om ‘n tuishalfeind te kry, ongeag teen wie. EG Jansen het ‘n baie goeie span en word hoër as ons in die land geag. Ons verwag niks minder as ‘n klipharde stryd nie.”
Indien die verdedigende kampioen die Jansies weer kan klop sal hy vir ‘n derde eindstryd in soveel jaar kwalifiseer. Die stryd tussen die twee spanne is nie slegs ‘n herhaling van verlede naweek nie, maar ook van verlede jaar se eindstryd toe die Bere met 41-22 baas was.
Alhoewel hy twee van sy SA o.18 “A”-spelers, Junaide Stuart en Brooklyn Newman, terugverwelkom, het Du Plessis en sy keurders besluit om geen veranderinge aan die beginspan aan te bring nie. Die twee sal albei wel ‘n groot impak van die bank af wil maak.
Die Jansies se afrigtingspan het slegs een verandering aan die span, wat verlede naweek vasgeval het, gemaak. Gerhard van Aswegen skuif weer van slot na steelkantflank, met Divan Francis wat uitmis en die klipharde Ettienne Smit wat vir Van Aswegen op slot vervang.
Buitesenter, Jeandre Jacobs, sal oorgehaal wees vir sy tweestryd met Ruan Enslin, wat verlede naweek die beste daarvan afgekom het deur twee keer agter die Boksburgers se doellyn te gaan kuier. Hierdie naweek bied inderdaad egter ‘n nuwe uitdaging, en Jacobs het deur die loop van die seisoen homself onderskei as een van die beste buitesenters in die reeks.
Die spanne:
Garsfontein t. EG Jansen om 12:00 in Pretoria
Garsfontein: 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Derrick Kuhn, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Stephan Pretorius, 7 Henre Prinsloo, 6 JP Pieterse, 5 Jacques Swarts, 4 Thinus Oosthuizen, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.
EG Jansen: 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claasen, 13 Juandre Jacobs 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Gerhard van Aswegen, 6 Zade-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Ettienne Smit, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.
Skeidsregter: Ruan Benade (Goue Leeus)
Junior Halfeindstryde (tuisspanne eerste vermeld):
o.16
10:00 – Helpmekaar vs Monument; 11:45 – Noordheuwel vs Garsfontein.
o.15
09:00 – Monument vs Garsfontein; 10:30 – Noordheuwel vs Menlopark.
o.14
08:00 – Monument vs Noordheuwel; 10:30 – Garsfontein vs Hoërskool Rustenburg.
- Batsmen carry Marais Viljoen to win over EG Jansen - 2024-09-12
- It’s T20 time as the Westvaal North/South returns - 2024-09-11
- Brandmuller’s bat the difference in Middelburg’s win over Secunda - 2024-09-10