De Swardt sluit hom by uitgelese geselskap aan
Ruan de Swardt het sy naam by ’n uitgelese groep sportmanne gevoeg toe sy naam Dinsdag op ’n spogdinee as ’n lid van die Suid-Afrikaanse Skole-krieketspan uitgelees is. De Swardt het vroeër vanjaar die SA Skole-rugbyspan verteenwoordig.
Hy is slegs die 12de sportman om dit te vermag en die eerste sedert Maritzburg College se Adrian Penzhorn hom in 2002 by die groep aangesluit het.
De Swardt het die keurders nie met veel van ’n keuse gelaat nie. Hy het die toernooi as die voorste bouler met 17 paaltjies teen ’n gemiddeld van 10.64 lopies per slagoffer afgesluit. Hy het boonop die toekenning as speler van die toernooi ook ontvang.
De Swardt sal egter nie volgende jaar in Januarie op Krieket Suid-Afrika se Cubs-week in Stellenbosch in aksie wees nie. Hy het reeds besluit om sy loopbaan as rugbyspeler volgende jaar by die Blou Bulle voort te sit.
Soos vooraf verwag sal die SA Skole-span deur Wiaan Mulder van St. Stithian’s College in Johannesburg aangevoer word. Mulder het vanjaar al die nasionale o.19-span aangevoer en spog ook reeds met ’n honderdtal en vyftal paaltjies in eersterangse franchise-krieket.
Dit is die eerste keer in 20 jaar wat ’n speler van St. Stithian’s College in Johannesburg die nasionale skolespan sal aanvoer. Sedert die ontstaan van die toernooi in 1940 sal Mulder die vierde SA Skole-kaptein van Saints wees. Sy voorgangers is Roy Pienaar (1978), CJ Benadie (1981) en Phillip Hearle (1996).
Drie skole Grey-kollege van Bloemfontein (Raynard van Tonder en Christopher Schreuder), Hudson Park van Oos-Londen (Akhona Mnyaka en Sinethemba Qeshile) en Grey High van Port Elizabeth (Matthew Breetzke en Lutho Sipamla) het elk twee verteenwoordigers in die span.
Die SA Skole- en Colts-span pak mekaar vandag op die Mangaung-ovaal in die Rosestad.
Die spanne is:
SA Skole: Wiaan Mulder (St. Stithian’s College, k), Matthew Breetzke (Grey PE), Jesse Christensen (Rondebosch Boys’ High), Michael Cohen (Reddam House), Jade de Klerk (Woodridge College), Ruan de Swardt (Affies), Akhona Mnyaka, Sinethemba Qeshile (albei Hudson Park), Christopher Schreuder (Grey-kollege), Lutho Sipamla (Grey PE), Keenan Smith (HTS Daniël Pienaar), Raynard van Tonder (Grey-kollege).
SA Colts: Jean du Plessis (Glenwoodhouse, k), Gerald Coetzee (St. Andrew), Jarred Alder (Marais Viljoen), Sinalo Gobeni (Western Cape Sport School), Siphamandla Krweqe (Dale College), Muhammed Mayet (King Edward VII), Mihlali Mpongwana (Western Cape Sport School), Zakariya Paruk (Clifton), Jiveshan Pillay (Maritzburg College), Jason Raubenheimer (Selborne College), William Sendin (Somerset College), Mitchell van Buuren (King Edward VII).