Briljante Bastiaanse, Waterkloof stuur Garsie Bere na vroeë hibernasie
PRETORIA – Ronan Bastiaanse is die Kloof se ridder op ‘n wit perd.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Die vreugdevure sou hoog gebrand het in die Kloof na Hoërskool Waterkloof se geskiedkundige sege van 47-36 oor Hoërskool Garsfontein se Bere.
Dit was nie alleen die eerste keer in 11 jaar dat die Klofies weer kon koning kraai teen die Bere nie, maar dié oorwinning het Waterkloof ook gevestig as een van die voorste aanspraakmakers om vanjaar die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te verower.
Dit was boonop die sesde agtereenvolgende keer wat Garsies op hul neuse moes kyk.
Die Blou Tornado was soos ‘n wafferse naelloper uit die blokke om vroeg reeds ‘n taamlike voorsprong op te bou, grootliks danksy heelagter, Ronan Bastiaanse, se dodelike skopskoen.
Bastiaanse het die besoekers gelooi met ses doelskoppe en ‘n paar strafdoele, maar dit was sy skepdoel, van meer as 50 meter ver, wat die tuisskare laat brul het van vreugde. Hy het uiteindelik met 22 van sy span se 47 punte gespog.
Die Klofies se steelkantflank, Lendrey Janse van Vuuren, het ook ‘n barshou gespeel en was, saam met agtesteman, Marko Kok, oral op die veld besig om die verdediging met hul kragtige dryfspel aan te vat. Janse van Vuuren het ook ‘n tweekuns behaal.
Met ‘n rustydagterstand van 12-38 wat hulle in die gesig gestaar het, was die Bere kniediep in die moeilikheid, máár, met die wind van agter in die tweede helfte, het hulle uiteindelik taamlike ritme begin vind om te wys waartoe hulle in staat is. Dit was vernaam wanneer die agterlyn effense spasie gegun was, dat die Garsies op hul gevaarlikste was, en heelagter, Junaid Passensie, het sy kanse aangegryp om self twee keer te gaan druk.
Die Bere se terugvegpoging van 24 punte en uitstekende skrumwerk sal van die positiewes wees wat hulle uit die nederlaag kan neem.
Hoërskool Monument het die momentum wat hulle by die onlangse Wildeklawer-toernooi begin opbou het voortgesit en, met losskakel, Cruz la Moer, aan die spits, die bal lekker lug gegee in die tweede helfte om Hoërskool Menlopark met 59-25 te verslaan.
Die Parkies sal wil verbeter op hul vertoning in die eerste 35 minute gespeel het, maar indien die Pretorianers dieselfde spelpeil van die tweede helfte vir die res van die seisoen kan voortsit, is hulle beslis ‘n buiteperd in vanjaar se reeks.
Puntemakers:
Waterkloof 47 (38) – Drieë: Lendrey Janse van Vuuren (2), Happy Makate, Riwan van Aswegen, Dennis Obi. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (6). Strafdoele: Bastiaanse (2). Skepskop: Bastiaanse. Garsfontein 36 (12) – Drieë: Junaid Passensie (2), Aiden King, Luan van der Berg, Luan Ferreira, Junaid Stuart. Doelskoppe: Luan Ferreira (2), Derrick Kuhn.
Monument 59 (26) – Drieë: Cruz la More, Keenan Myners, Kealan Milton, RJ Barnard, Nathan Erasmus, Ernesto Oersen, Evan Bernardi, Rasliem Guyan, Hanu Fourie. Doelskoppe: Cruz la More (6). Menlopark 25 (20) – Drieë: Stefan van Niekerk (2), Divan Nel, Anwil Prins.
Noordheuwel 40 (20) – Drieë: Lindsey Jansen (2), Cheswill Jooste, Jade Muller, Ignatuis Jantjies. Doelskoppe Jeandre Uithaler (3). Strafdoele: Uithaler. Skepskop: Uithaler. Rustenburg 34 (10) – Drieë: Wesley van Loggerenberg, Wickus Jacobs, Erich Potgieter, Coenraad Coetzer. Doelskoppe: Lorenzo Snyers (3). Strafdoele: Snyers (2).
Dr. EG Jansen 32 (10) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Zade-Leigh Rippenaar (2), Duwan Potgieter, Ntokozo Ngobese. Doelskop: Matthew Bergman. Marais Viljoen 8 (8) – Drie: Bjorn Pieterse. Strafdoel: Rekkie Gerber.
Helpmekaar 72 (31) – Drieë: Liam Devenier, Ula van der Merwe, Zaiden Krige, Molatsi Moloi, Michael Benzien, Clinton Cloete, Ty Ax, Pieter Moller, Delano Maritz, Tiaan le Roux, Tristan van Niekerk, Wian Storm. Doelskoppe: Michael Benzien (4), Wian Storm (2). Nelspruit 19 (7) – Drieë: Bradley Claasen, Tinyiko Silubane, Ian Wood. Doelskoppe: Divan de Kock, Christiaan van Deventer.
Ander spanne:
o.16: Garsfontein 37, Waterkloof 28; Noordheuwel 17, Rustenburg 10; Monument 38, Menlopark 19; Helpmekaar 48, Nelspruit 6; EG Jansen 34, Marais Viljoen 12.
o.15: Garsfontein 40, Waterkloof 17; Noordheuwel 34, Rustenburg 0; Monument 22, Menlopark 17; Nelspruit 23, Helpmekaar 22; EG Jansen 19, Marais Viljoen 14.
o.14: Garsfontein 43, Waterkloof 10; Rustenburg 18, Noordheuwel 13; Monument 25, Menlopark 0; Nelspruit 21, Helpmekaar 17; EG Jansen 5, Marais Viljoen 5.
- Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer - 2025-02-12
- Klofies beëindig Yesbere-segetog - 2025-02-12
- Groot honde in Finsbury se B-afdeling pak mekaar - 2025-02-11