Brandmuller-honderdtal te veel vir Uplands
Reuben Brandmuller (147, 122b) se uitmuntende honderdtal was een té veel vir ‘n begeesterde Uplands College-elftal.
Die voorslagkolwer het sy eerste wedstryd in Afdeling-D van die Finsbury-reeks ten volle benut om ‘n tydige waarskuwing aan al Hoërskool Middelburg se toekomstige teenstanders te rig.
Brandmuller was slegs drie lopies kort van wat ‘n merkwaardige honderd-en vyftigtal sou wees. Sy beurt het ‘n string grenshoue ingesluit, waarvan 15 viere was en vier oorkant die grenstou grondgevat het.
Sy kollega, Ivan Deale (61), sou ook heelwat selfvetroue uit sy beurt kon put. Die twee se vennootskap van 192 het die Middies se lopietempo behoorlik aan die gang gehou.
Dit het verseker dat hul span ‘n reusetelling van 333/8 in dié se toegelate 50 boulbeurte kon opstapel.
Liam van Zyl was Uplands College se uitstaande bouler. Van Zyl het aanhou veg vir die span van Mpumalanga en is met vier paaltjies beloon.
Sy kolwers kon egter nie dieselfde vermag as dié van die Middies nie. Dit het egter nie beteken dat die span eenvoudig gaan lê het nie.
Van Zyl was wat kolfwerk betref ook aan die spits. Sy beurt van 34 lopies was die hoogste individuele telling vir Uplands, terwyl Marley Waspe (28) en Gregory Kazandjis (26) ook waardevolle bydraes gelewer het.
Dit was helaas nie genoeg om ‘n nederlaag af te weer nie. Shaun Taljaard het sy dinamiese beurt van 21 lopies, wat van slegs nege balle gekom het, opgevolg met puik boulsyfers.
Hy het drie paaltjies laat kantel vir net 25 lopies. Saam met Taljaard was Hendre Nel (2/26) en Eduan Strydom (2/35) ook op hul stukke met vier paaltjies tussen die twee van hulle.
Hoërskool Dinamika het hul dominerende spelpatroon voortgesit deur Merensky Lanbou Akademie met sewe paaltjies te verslaan. Dean van Onselen lyk na Afdeling-D se gevaarman met die kolf. Hierdie kranige kolwer het sy tweede vyftigtal in soveel weke opgelewer, na ‘n verbroude vangkans wat vir hom ‘n tweede lewe gegun het.
Nathan Visagie se drie paaltjies vir slegs 13 lopies het ‘n beduidende rol in in Merensky se teleurstellende totaal van 114 gespeel. Mark van der Berg (2/12) het hom goed ondersteun, terwyl Jayden Smith (2/15) ook twee slagoffers geëis het.
Vir die Tzaneeners was dit Rinaldo Bornman wat die kollig gesteel het. Hy het kop en skouers bo die res uitgestaan met sy vasberade beurt van 43 lopies. Die Plasies se aanvangsbouler, Luka Heinlein, het ook gewys wat in hom steek, deur twee vinnige paaltjies te neem.
HTS Middelburg kon sy eerste oorwinning van die reeks smaak. Die span van Middelburg het uitstekend herstel na verlede week se nederlaag om Heidelberg Volkskool met 34 lopies te klop.
Athoni Smuts (38) en Janco Aucamp (34) het leiding geneem met die kolf. Dit het beteken dat WJ Enslin (30) ook later in die beurt sy stempel kon afdruk.
Vaughn Steynvaart (4/33) en Dandre Louw (2/29) was Volkies se topboulers gewees. Matt Wentzel het dit goed opgevolg met ‘n goeie kolfbeurt van 44 lopies. Marco Botha (22) het ook hard gewerk vir sy waardevolle telling.
Die aanslag van die HTS Middelburg-boulers was egter net té akkuraat. Hanro Terblanche was in ‘n verwoestende bui en het vier paaltjies vir slegs vyf lopies laat val. Dit het die Volkies onder kwaai druk geplaas, en vir Ethan Dreyer (3/37) en Toy Engelbrecht (2/24) gehelp om die knoop deur te hak.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Middelburg: 333/8 (Reuben Brandmiller 147, Ivan Deale 61, Le Roux French 28, Shuan Taljaard 21; Leam van Zyl 4/82). Uplands College: 180 (Leam van Zyl 34, Marley Waspe 28, Gregory Kazandjis 26; Shuan Taljaard 3/25, Hendre Nel 2/26, Eduan Strydom 2/35, Gavin Genis 2/36). Hoërskool Middelburg wen met 158 lopies.
Merensky: 114 (Rinaldo Bornman 43, Loghan Janse van Rensburg 21; Nathan Visagie 3/13, Mark van der Berg 2/12, Jayden Smith 2/15); Dinamika: 115/3 (Dean van Onselen 62*, Trent Shrives 33; Luka Heinlein 2/27). Dinamika wen met sewe paaltjies.
HTS Middelburg: 183 (Anthoni Smuts 38, Janco Aucamp 34, WJ Enslin 30, Armand Kotze 23; Waughn Steynvaart 4/33, Dandre Louw 2/29); Heidelberg Volkskool: 149 (Matt Wentzel 44, Marco Botha 22; Hanro Terblanche, Ethan Dreyer 3/37, Toy Engelbrecht 2/24). HTS Middelburg wen met 34 lopies.
- Merensky, Wessies reeds vir tweede keer vanjaar slaags - 2025-01-24
- Middelburg vroeg reeds vanjaar in groen en rooi getooi - 2025-01-24
- Van Staden en Zwarries het Dinamika in hul visier - 2025-01-24