SuperSport Schools Plus

Blou Tornado hervat Beker-veldtog teen gevaarlike Helpies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-07-12 Tags: , , , ,

PHOTO: Frans Lombard/Actionpix

‘n Sege vir die Klofies kan waarskynlik reeds ‘n plek in die uitspeelrondes verseker.

Volg al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Hoërskool Waterkloof sal tuisveldvoordeel optimaal wil benut wanneer hy sy veldtog in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling Saterdag in Pretoria hervat. Die Klofies kom teen die gevaarlike besoekers van Johannesburg, Helpmekaar Kollege, te staan.

Die span van die ooste van Pretoria is steeds onoorwonne in vanjaar se kompetisie nadat hul kragmeting met die reeks se ander voorlopers, Hoërskool Dr. EG Jansen, met 32-32 gelykop geëindig het in Boksburg.

Hoofbreier en skrumdokter, Cobus van Dyk, het slegs een verandering aan die suksesvolle span aangebring. Steelkantflank, Lendrey Janse van Vuuren, loop die stryd teen die Helpies mis met las van ‘n ligte besering, wat aan Dawid Prinsloo die geleentheid bied om die besoekers van Johannesburg, van die kant van die skrum, te terroriseer.

Agterlangs wag daar vir die soveelste keer ‘n liplekker-stryd tussen die twee buitesenters, Helpies se Ty Ax, een van die groot uitblinkers vir die Goue Leeus by die Akademieweek, en die Blou Bulle se Cravenweeksenter, Riwan van Aswegen.

Van Aswegen was nie heeltemal homself in Krugersdorp nie, en sal graag weer sy stempel in die Klofie-trui wil afdruk, met die gerustellende teenwoordigheid van Happy Makate aan sy binnekant.

Daar hang nog ‘n vraagteken oor die beskikbaarheid van Helpies se slot en kaptein, JP Lombard, wat die Goue Leeus se laaste wedstryd in Krugersdorp misgeloop met ‘n besering, terwyl hul uitblinker op stut, Ulrich van der Merwe, ook vir ‘n onbepaalde tyd op die krukkelys is.

‘n Entjie verder af met die N1 sal Hoërskool Dr. EG Jansen se Arende hul stempel verder wil afdruk in dié afdeling wanneer hulle weg met Hoërskool Menlopark kragte meet. Die wedstryd word regstreeks op SuperSport SchoolsKanaal 216 uitgesaai.

Die Jansies het van meet af vanjaar goeie ritme opgebou en behou, met losskakel, Matthew Bergman, wat selde nog ‘n voet verkeerd gesit het. Die Jansie-ondersteuners sal ook opgewonde wees om buitesenter, Juandre Jacobs, en hul kaptein en SA Skole A-stut, Duwan Potgieter, in aksie te sien.

Die Parkies het ‘n punt om te bewys en brand om op hul tuisveld vir ‘n reuse opskudding te sorg. Dit sal egter slegs moontlik wees indien haker, Declan Pelser, en die res van die Parkie agttal, die oorhand kan kry. Dit sal geleenthede skep vir die heelagter, wat vandeesweek op linkervleuel diens doen, Divan Nel, om van agter met sy dartellopies aan te val. Ruben Fourie maak sy terugkeer op regtervleuel.

Die spanne: 

Hoërskool Waterkloof t. Helpmekaar Kollege om 12:30 in Pretoria

Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Jaiden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

Helpmekaar Kollege (moontlik): 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Clinton Cloete, 11 Pieter Moller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Niekerk, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Zaiden Krige, 5 JP Lombaard, 4 Christiaan Tonkin, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.

Hoërskool Menlopark t. Hoërskool Dr. EG Jansen om 12:20 in Pretoria

Dr. EG Jansen: 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claasen, 13 Juandre Jacobs 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Marco Ventura, 5 Zandre Naude, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.

Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Ruben Fourie, 13 Leskin Samuels, 12 Wynand van Wyk, 11 Divan Nel, 10 Logan Botha, 9 Gustav Schaffner, 8 Rocco Myburg, 7 JN van Wyk, 6 Nathan du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Hein Schoeman, 3 Ruwan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Chrisjan Brits.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.