Bere moet waak teen groen golf van Rustenburg

Hoewel Hoërskool Garsfontein se Bere verlede naweek behoorlik spiere gebult het, sal hulle op hul hoede moet wees vir die bedreiging wat die groen golf van Hoërskool Rustenburg kan inhou.
Geniet al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Bere het sommer gelyk na die Garsfontein van ouds in hul reuse oorwinning van 90-14 oor Hoërskool Menlopark verlede naweek en sal daardie skitterende spelpeil tuis wil voortsit teen die Rusties in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Die Pretorianers het uitstekend herstel om na ‘n wankelrige begin om hul laaste tweede wedstryde in die kompetisie te wen. Voor die slagting op Bere-park in die vorige ronde, het hulle ook met 31-19 teen Hoërskool Marais Viljoen, in Alberton, geseëvier.
Die Rustenburgers, nuwelinge in vanjaar se Beker-afdeling, spog ook reeds met twee seges op hul kerfstok, nadat hulle met Marais Viljoen (51-29) en Hoërskool Nelspruit (23-19) afgereken het.
Dit sal interessant wees om te sien hoe die Rusties se agttal, onderleiding van slot en kaptein, Pedrie Human, teen die Bere se voorhoede opweeg. Toe dit moeilik gegaan het met Garsies aan begin van die seisoen, was dit die voorspelers wat uitgeblink het, terwyl hul sukses die afgelope paar weke te danke was aan Junade Pasensie se uitsonderlike vermoë om spel te skep agter die pak.
Pasensie se skuif na losskakel het nuwe wind in die Bere se seile geblaas en help ook dat die aanvalswapens soos linkervleuel, Junaide Stuart, en buitesenter, Ruan Enslin, op die voorvoet kan kom.
Die Rusties beskik self oor ‘n paar gevaarlike angels in hul agterlyn. Die vleuels, Zulu Khumalo en Christiaan van den Bergh, is albei uitstekend op dreef en nie vreemdelinge vir die doellyn nie, terwyl die Luiperds se Cravenweek-heelagter, Lorenzo Snyers, ook die Bere inwag.
“Ons het gewerk aan ons foute die week en klem gelê op die vaste fasette,” sê Rusties se afrigter, Naas Olivier.
“Garsfontein is sterk voorlangs en ons sal op ons stukke moet wees die naweek. Ons doelwit is om hulle onder druk te plaas met ‘n westrydplan wat ons glo vir ons die beste kans gaan bied.”
In Krugersdorp wag daar ‘n groot taak op Hoërskool Noordheuwel se Blues wanneer hulle vir Helpmekaar Kollege in die kompetisie se laaste ronde van die kwartaal aandurf. Die Helpies het verlede naweek ‘n broodnodige loslootjie geniet, terwyl die Blues naelskraaps teen Dr. EG Jansen vasgeval het met 30-34.
Hierdie is ‘n wedstryd wat die Nories se afrigtingspan as ‘n “moet-wen” beskou aangesien hulle die afgelope twee keer teen Hoërskool Monument (33-36) en EG Jansen tweede gekom het. Die Helpies het self, voor die loslootjie, op hul neus gekyk teen die Arende van Boksburg (19-27).
Albei spanne het tot dusver met rukke en stote uitstaande rugby opgedis. Die span van Johannesburg se agttal sal uitsien na nóg ‘n fisieke stryd voorlangs .
Agterlangs is albei agterlyne taamlik onvoorspelbaar, en beskik elkeen oor die vermoë om iets uit niks op te tower. Die Blues se losskakel, Jeandre Uithaler, se geoefende skopskoen sal weer ‘n deurslaggewende rol speel om die telbord aan die rol te hou, terwyl Helpies se Michael Benzien die toutjies vir die Johannesburgers sal trek wanneer daar aangeval word.
Nories se heelagter, Jade Muller, sal ook met ‘n valkoog dopgehou moet word, vernaam wanneer hy besluit om giftige teenaanvalle van agter te loods.
Die tuisspan sal ook dwaas wees om onnodig op die besoekers se agterste driehoek te skop, want dan sal hulle hul keer moet ken – verál as linkervleuel, Pieter Möller, met sy fisieke lopies teen die kantlyn af vorendag kom.
Die spanne:
Hoërskool Garsfontein t. Hoërskool Rustenburg om 13:20 in Pretoria
Garsfontein (moontlik): 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthuizen, 6 JP Pieterse, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Stephan Pretorius, 1 Ethan van Dyk.
Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Bergh, 13 Hendré Robinson, 12 Awie Alberts, 11 Zulu Khumalo, 10 Jayden Meyer, 9 Adriano George, 8 Coenraad Coetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Wickus Jacobs, 5 Pedri Human, 4 Edrich Potgieter, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Divan Welgemoed.
Hoërskool Noordheuwel t. Helpmekaar Kollege om 14:00 in Krugersdorp
Noordheuwel (moontlik): 15 Jade Muller, 14 Jenemo Luiters, 13 Cheswil Jooste, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Jeandre Uithaler, 9 Ignatius Jantjies, 8 Brad Brown, 7 Donovan Breedt, 6 Juandré de Villiers, 5 Xander Buytendach, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Brendan Naude, 1 Meyer Opperman.
Helpmekaar (moontlik): 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Clinton Cloete, 11 Pieter Möller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Niekerk, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Zaiden Krige, 5 JP Lombard, 4 Eugene de Lange, 3 Urlich van der Merwe, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.