SuperSport Schools Plus

Bairos, Monties op die wenpad met Moories volgende in die visier

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-29 Tags: , , , , ,

FOTO: DG Sports Fotos.

Hoërskool Montana, met kaptein, Luca Bairos, wat van voor lei, is vasberade om hul segetog hierdie week voort te sit teen Hoërskool Hans Moore.

Volg al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Na hul oorwinning oor Hoërskool Centurion in die tweede ronde van die Finsbury-reeks se B-afdeling, behoort die Monties oor te loop van die selfvertroue.

Dit was juis Bairos wat met ‘n kapteinsbeurt die kastaiings met ‘n deurslaggewende 40 lopies uit die vuur gekrap het vir die span van Pretoria-Noord om ‘n oorwinning met vier paaltjies oor die Woeries te behaal.

Dit is boonop Montana se tweede agtereenvolgende wedstryd op tuisbodem, en op skolevlak speel tuisveldvoordeel ‘n beduidende rol. Aanvangsbouler, Juan Theunissen, is stewig op dreef met die bal en sal wil voortbou op sy nuutgevonde ritme ten einde sy span in ‘n gesaghebbende posisie te help plaas teen ‘n sterk Moorie-kolflys.

Die besoekers van Benoni beskik oor hope talent met die wilgerlat in hand, soos aanvangskolwers, Zander Swart en Stephan Vermaak, aangedui het in die span se oorwinning met 10 paaltjies oor Marais Viljoen ‘n week gelede.

Dit lyk ook asof  die Shaw-broers, Kenan en Aiden Shaw, in omgekrapte bui is met onderskeidelik die bal en kolf, en eersgenoemde wat die Moories se voorslagbouler was teen die manne van Alberton. Alhoewel die Hoëveld se blaaie meer neig ten gunste van die naatboulers, is dié draaier se konstante lyn en lengte steeds moeilik om te trotseer. Aiden, wat ook die besoekers se paaltjiewagter en ‘n toporde-kolwer is, sal brand om sy kolfvernuf in Pretoria ten toon te stel.

Marais Viljoen, wat nog sy wonde lek na die nederlaag teen die Moories ‘n week vantevore, het ‘n gulde kans teen Potchefstroom Gimnasuim om sake reg te stel. Albei spanne se boulaanvalle het deurgeloop onder hul vorige teenstanders. Marais Viljoen geniet egter tuisveldvoordeel en dis dalk nét wat hy benodig om terug te keer na die wenpad toe.

Kaptein, Jaden Govender, sal van die res van sy troepe, vernaam Abdullah Tadwala, verwag om hul pond vleis tafel toe te bring. Die Gimmies sal heelwat staatmaak op aanvangsbouler, Jhandré Coetzee, om sy onlangse kordaatstukke met die bal te herhaal.

Die kragmeting tussen Hoërskool Kempton Park en Hoërskool Centurion is uitgestel tot latere kennisgewing, weens die Kempies se deelname aan die uitspeelrondes van die Schools SA20 in Benoni eerskomende naweek.

Bepalings:

Week 3: 
Montana t. Hans Moore
Marais Viljoen t. Potchefstroom Gimnasium

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.