Allen, Oosies-agttal stoomroller Zwarries in Centurion
“Ons het uiteindelik die regte rat voorlangs geslaan”
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
So het Braam Pretorius, Hoërskool Oos-Moot se hoofafrigter, sy span se oorwinning van 56-14 oor Hoërskool Zwartkop, in die laaste ronde groepwedstryde van die kwartaal in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, opgesom.
“Ons het voorlangs oorheers, wat dit vir ons agterlyn moontlik gemaak het om ‘n bietjie te hardloop,” het Pretorius bygevoeg.
Dit het daartoe gelei dat die Oosies nie minder nie as agt keer agter die Zwarries se doellyn gaan kuier het. Die Oosies se agttal het inderdaad in alle fasette van die kragmeting die botoon gevoer.
Dit het vir losskakel, Ruwan Allen, die geleentheid gebied om sy gevaarlike agterlyn aan die gang te kry. Allen het boonop sy beste vertoning vanjaar vanaf die skopkegel beleef.
Hy het ál agt sy span se drieë, waarvan hy self een gedruk het, verdoel, wat beteken het dat hy persoonlik vir 21 punte verantwoordelik was.
Die span van die Moot se slotpaar, Jaydon Botha en Connor de Jager, was ook uitstaande, uiters fisiek op sowel die aanval as verdediging en is met ‘n vyfpunter elk beloon.
Die Zwarries behoort verheug te wees dat hul puntemasjien, Denlison Metcalf, lyk asof hy ten volle van sy dyspierbesering herstel het. Metcalf het met slegs 30 sekondes verstreke ‘n blaps van die opposisie uitgebuit om oor te duik vir die eerste van die tuisspan se twee drieë.
In Vanderbijlpark was ‘n dominante tweede helfte deur die tuisspan, Hoërskool Transvalia, genoeg om ‘n oorwinning van 31-24 oor Hoërskool Middelburg te verseker.
Transvalia het in die laaste 35 minute voet in die hoek gesit om 24 punte aan te teken, met vernaam die voorspelers wat ‘n reuse verskil gemaak het. Die tuisspan se plaasvervangerslot, Vincent Brits, het, met tyd bykans verstreke, deurgestorm om seker te maak dat die Middies nie in die doodsnikke vir ‘n opskudding kon sorg nie.
Hoërskool Klerksdorp het beïndruk in hul tuissege van 24-20 oor Hoërskool Kempton Park. Hul Cravenweek-agtsteman en kaptein, GJ Steenberg, het van voor gelei met sy kragspel, terwyl die Suid Afrikaanse o.19 Statebond-spiesgooikampioen, Ewald Jansen, sy terugkeer op binnesenter met ‘n uitstaande vertoning op die aanval gevier het.
Hoër Tegniese Skool Middelburg het nóg ‘n indrukwekkende sege van 35-7 oor Hoërskool Montana op tuisbodem behaal.
HTS se nuwe losskakel, Gerry Gendall, het indrukwekkend vertoon en vir die Monties deurgaans aan die raai gehou met sy dartellopies. Dit het die gevaarlike Johnny dos Santos, wat op buitesenter diens verrig het, die nodige spasie gebied om skade aan te rig, en albei het ‘n tweekuns behaal.
Puntemakers:
Oos-Moot 56 (35) – Drieë: Franco O’Neal, Connor de Jager, Bertus van Dyk, Tapiwa Rwafa, Ruwan Allen, Jaydon Botha, Jandre de Beer, Nick Venter. Doelskoppe: Ruwan Allen (8). Zwartkop 14 (14) – Drieë: Denilson Metcalfe, Brian Smith. Doelskoppe: Kyle Kooman (2).
Transvalia 31 (7) – Drieë: Wynand Stols, Siyabonga Khambule, Dylan Booth, Brandonlee Smit, Vincent Brits. Doelskoppe: Dylan Steynman (3). Hoërskool Middelburg 23 (13) – Drieë: CW Hanekom, Matthew Abbey, Sihle Mkatswa. Doelskop: Abbey. Strafdoele: Abbey.
Klerksdorp 24 (10) – Drieë: Abrie Esterhuizen (2), Janu de Wet. Doelskoppe: Deacon Loots (3). Strafdoel: Loots. Kempton Park 20 (12) – Drieë: Ettienne Stroebel (2), Deon Mullign. Doelskop: Tiaan Delport. Strafdoel: Delport.
HTS Middelburg 35 (14) – Drieë: Gerry Gendall (2), Johnny dos Santos (2), Jayden Knoesen. Doelskoppe: Jaque Stassen, Knoesen, Gendall. Montana 7 (0) – Drie: Marq de Villier. Doelskop: Daelin Ludick.
Ander spanne:
o.16: Zwartkop 33, Oos-Moot 3; Transvalia 41, Hoerskool Middelburg 5; Kempton Park 62, Klerksdorp 0; HTS Middelburg 18, Montana 17.
o.15: Oos-Moot 24, Zwartkop 13; Middelburg 19, Transvalia 15; Klerksdorp 26, Kempton Park 19; HTS Middelburg 3, Montana 0.
o.14: Oos-Moot 31, Zwartkop 0; Transvalia 13, Middelburg 12; Kempton Park 19, Klerksdorp 10; HTS Middelburg 17, Montana 12.