SuperSport Schools Plus

Affies kraai koning teen Garsfontein

By Shane Labuschagne , in Netball | News , at 2025-04-26 Tags: ,

Vrydag se netbalkragmetings tussen Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en Hoërskool Garsfontein het ‘n kragtige aanduiding gegee van wie tans die botoon voer in Pretoria.

Affies het in elke ouderdomsgroep onwrikbaar presteer om hul teenstanders van Garsfontein oortuigend te klop.

In die o.14A-wedstryd het Affies met 25–16 geseëvier en daarmee die toon duidelik aangegee vir die res van die dag. Die momentum het verder opgebou met die o.15A-span wat hul kragmeting met 22–15 beklink het.

Affies se o.16’s het uiters klinies vertoon om hul opponente met ‘n indrukwekkende telling van 39–12 van die baan te vee.

Een van die dag se hoogtepunte was die o.17A-ontmoeting, waar Affies weer die hef in die hand gehad het om Garsfontein met 29–11 te verslaan. Die Affie-dogters het met blitsige spel, akkurate doele en rotsvaste verdediging uitgeblink en geen twyfel oor hul vaardighede gelaat nie.

Die o.18-A span van Affies het die dag stylvol afgesluit deur ‘n taai stryd teen Garsfontein se eerste span met 33–27 te wen. Alhoewel Garsies vasgebyt het, het Affies se ervaring en puik samespel uiteindelik die deurslag gegee.

Die dag het gewys dat Affies se netbalstrukture diep gevestig en goed ontwikkeld is. Hulle spanne het nie slegs met individuele talent nie, maar ook met uitstekende spanwerk en strategiese spel beïndruk. Affies het dus sonder twyfel koning gekraai in hierdie klassieke Pretoria-derby.

Uitslae:

o.14A: AHMP 25, Hoërskool Garsfontein 16

o.15A: AHMP 22, Hoërskool Garsfontein 15

o.16A: AHMP 39, Hoërskool Garsfontein 12

o.17A: AHMP 29, Hoërskool Garsfontein 11

o.18A: AHMP 33, Hoërskool Garsfontein 27

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.