SuperSport Schools Plus

Wilgerivier en Bothaville kampioene in onderskeidelik Oos-Vrystaat en Sandveld

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-07-29

FRANKFORT. – Dié span wat vanjaar die kroon as kampioen van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) wil dra sal eers die verdedigende kampioen, die Hoërskool Wilgerivier tot oorgawe moet dwing. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Wilgerivier is Vrydag op sy tuisveld hier as kampioen van die Oos-Vrystaat toe hy Hoërskool Vrede 50-10 verslaan het. Dit was ook dan die derde agtereenvolgende jaar dat die span van Frankfort as kampioen van dié liga gekroon is.
Vrede het in die eerste helfte nog weerstand gebied met die spanne wat met die telling op 14-10 in die wenspan se guns gedraai het. Wilgerivier het egter deurentyd die balbesit beheer en ook gebiedsvoordeel geniet.
Wilgies se skrumskakel, Gerhard van Rensburg het met sy spel agter die oond beïndruk. Van Rensburg beskik waarskynlik oor die beste aangee van enige eerstespan skrumskakel in die streek. Hy is ook stewig gebou en staan sy man om die skrums en losskrums.
Vrede se slot Charl du Toit en senter Mark Cockroft is albei na een voorval koelkas toe gestuur. Die span moes die wedstryd met 13 spelers voltooi. Du Toit en sy slotmaat JP Burger het op die verdediging vir Wilgerivier in die eerste helfte in toom gehou.
Vir Wilgies het sy flank Gerrie Muller met sy kenmerkende lopies uitgeblink. Die heelagter, Willem Coetzee verdien ook ‘n klop op die skouer.
Die losskakel, Pieter Duminy het die voordeellyn in die tweede helfte beter aangeval en het met sy flinke voetwerk en dié nuwe benadering in die tweede helfte se agterlyn op die voorvoet geplaas.
Bothaville het sy titel as kampioen van die Sandveld-liga suksesvol in die Noordwes-stadion in Welkom verdedig. Die kampioen was te sterk vir Hennenman en het die eindstryd met gemak 57-0 gewen.
Die span se Cravenweek-senter, Wessel Hefer het sy gehalte ten toon gestel en ‘n driekuns aan drieë behaal. Die span se losskakel Juandré Kleynhans het ook uitstaande spel gelewer. Voorlangs was die agtsteman, Sakkie Bester ‘n yster.
Bothaville sal nou in die halfeindstryd van die Griffons se platteland-liga teen Vrede te staan kom. Wilgerivier pak in die ander halfeindstryd teen Hennenman. Die wenners van die twee halfeindstryde sal reeds hulle plekke in die halfeindstryde van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga bespreek.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.