Waterkloof maak dit vier uit vier
Die Hoërskool Waterkloof se eerste krieketspan het sy titel as kampioen van die Gunn & Moore Noordvaal-reeks behou deur die Hoërskool Nelspruit met 75 lopies in die eindstryd op Uplands College se veld in Witrivier te verslaan. Klofies het met die sege seker gemaak dat hulle vir die vierde agtereenvolgende jaar as kampioen van die gesogte reeks gekroon word.
Waterkloof het sedert die ontstaan van die reeks in 1923 al sewe keer die kroon gedra. Die skool het in 2007, 2010 en 2012 ook met die louere weggestap.
Klofies se o.15-span het ook daarin geslaag om sy titel te behou deur Cambridge van Witbank met 122 lopies die loef af te steek. Die span van Cambridge het vanjaar vir die eerste keer teen die groot honde deelgeneem, wat die skool se prestasie uniek maak.
Waterkloof het eerste gekolf in die eerstespan eindstryd en dit was sy een van sy stertkantkolwers Nico van Zyl (52*) wat met ‘n onoorwonne vyftigtal sy span tot 213/9 in die toegelate 50 boulbeurte gehelp het. Die kampioen se Jandre Pretorius (33) het ook ‘n waardevolle bydra met die kolf gelewer.
Ewan Lombard (2/27) en Jon Hinrichsen (2/46) het die meeste skade met die bal aangerig, maar kon nie Klofies tot onder 200 lopies inperk nie. Van Zyl het twee keer vennootskappe van 42 lopies met medekolwers gedeel wat sy span se twee beste vennootskappe was.
Hy het kragte saam met Sean du Plooy (23) om die agtste paaltjie vir 42 lopies saamgespan voordat laasgenoemde uitgeloop is. Hy en Marco Boonstra (9) het daarna dieselfde aantal lopies om die negende paaltjie gedeel.
Nelspruit kon slegs 138 lopies hierop antwoord waarvan sy kaptein en aanvangskolwer, Divan Jacobs (53) die meeste aangeteken het. Hinrichsen (27) het ook goed begin voordat hy deur Van Zyl van Boonstra se boulwerk uitgevang is.
Boonstra (2/17), Gideon Peters (2/20), Du Plooy (2/28) en Eben Botha (2/44) het almal daarin geslaag om twee paaltjies in te oes.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Waterkloof 213/9 (Nico van Zyl 52*, Jandre Pretorius 33; Ewan Lombard 2/27, Jon Hinrichsen 2/46); Hoërskool Nelspruit 138 (Divan Jacobs 53, Jon Hinrichsen 27; Marco Boonstra 2/17, Gideon Peters 2/20, Sean du Plooy 2/28, Eben Botha 2/44). Waterkloof wen met 75 lopies.