SuperSport Schools Plus

Vyf spanne nog kans om uitkloprondes in Oos-Vrystaat te haal

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-05-16 Tags:

DIE eersterugbyspan van die Hoërskool Reitz het Saterdag die sake in die Oos-Vrystaatse liga behoorlik deurmekaar gekrap. Reitz het Paul Erasmus van Senekal sy eerste nederlaag toegedien. Reitz het die kragmeting op sy tuisveld tussen die twee spanne 19-12 gewen.

Daar is nou vyf spanne wat met slegs drie ronde liga-wedstryde vir die vier plekke in die halfeindstryde van die liga sal veg. Veral die kragmeting op 25 Mei tussen Reitz en Ladybrand kan bepalend wees wie van hierdie twee spanne tot die uitkloprondes deurdring.

Die verdedigende kampioen, Wilgerivier van Frankfort beklee die boonste posisie op die puntelys met 15 punte na drie wedstryde. Die span van Frankfort het sover vir Vrede (52-12), Ficksburg (54-0) en Harrismith (55-0) verslaan.

Paul Erasmus beklee met 14 ligapunte die tweede posisie na vier wedstryde. Die span van Senekal het eerskomende naweek ‘n loslootjie. Die span se laaste twee wedstryde is teen Wilgerivier en Vrede. Dit sal waarskynlik ook sy twee moeilikste wedstryde van die liga wees.

Ladybrand het met sy oorwinning van 17-14 oor Ficksburg vir homself in ‘n goeie posisie geplaas. Dié span beklee die vierde posisie met nege punte op die puntelys. Ladybrand se laaste twee wedstryde is teen Wilgerivier en Reitz. Die span het met die laaste ronde wedstryde ‘n loslootjie.

Reitz beklee die vyfde posisie met agt punte. Die span se enigste nederlaag tot dusver was teen Vrede (0-39).
Dié span kom in die laaste ronde teen Wilgerivier te staan. Hy sal dus reeds sy plek in die halfeindstryde na sy volgende twee wedstryde teen onderskeidelik Harrismith en Ladybrand bepreek wil hê.

Vrede beklee die derde posisie en pak Ficksburg, Harrismith en Paul Erasmus is sy oorblywende wedstryde.

Puntemakers: 

Reitz 19 (5) – Drieë: Jaco Pretorius, Pieter Henn, Hannes Aucamp. Doelskoppe: Henn (2). Paul Erasmus 12 (12) – Drieë: Reirotele Mosia, Edwin Gower. Doelskop: Gower. 

Wilgerivier 55 (31) – Drieë: Jacques van Rensburg, Phillip du Pisanie, Jahn Workel, Alré van Heerden, Gerrie Muller, Stephan Venter, Dana Janse van Rensburg, Jan-Hendrik Muller, Schalk Wilkinson. Doelskoppe: SF Meyer (5). Harrismith 0

Ladybrand 17 – Drieë: Thabiso Tau, Thinus Schoeman, Riaan Duvenhage. Doelskop: Schoeman. Ficksburg 14.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.