Vrystaatse rugbysterre Hein en Steenkamp skitter op Noordvaal-Bondedag
TIEN van die 20 provinsiale o.18-spanne, wat later vanjaar op die 51ste Cravenweek-rugbytoernooi vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) gaan deelneem, was die naweek in Sasolburg in aksie.
Volksblad se skolesport-verslaggewer, Hannes Nienaber, het die jaarlikse Noordvaal-Bondedag bygewoon en sy voorste spelers van die dag gekies.
Llewellyn Hein (Vrystaat):
Hy het teen die Blou Bulle twee drieë gaan druk en sy ongelooflike vaart ten toon gestel. Hy is sonder twyfel die speler van wie almal sou praat as hulle ná die dag se spel by die huis sou kom.
Nazo Nkala (Griffons):
Daar was nie ’n ander vleuel in aksie wat meer gaan werk soek het as Nkala nie. Hy het twee keer gaan druk en ’n hele paar kere Limpopo se verdediging aan flarde gehardloop.
Jan-Henning Campher (Blou Bulle):
Die Bulle se kaptein en haker het eers in die tweede helfte sy kans gekry, maar dit was dadelik duidelik te sien wat sy teenwoordigheid vir sy span beteken.
Morné Joubert (Haaie):
Die heelagter het kop-en-skouers bo al die spelers in ’n wedstryd vol sterre uitgestaan. Hy was nooit uit posisie betrap nie en het op die aanval elke keer die regte keuses uitgevoer.
Louwtjie Steenkamp (Vrystaat):
Die Vrystaatse heelagter het nou wel net een helfte gehaal, maar sy ongelooflike strafdoel van ongeveer 60 meter gee aan hom die regmerkie. Joubert se algehele vertoning as heelagter was dalk beter as Steenkamp s’n, maar sy X-faktor maak van hom ’n gevaarlike speler.