Vrystaat kan sterk teenstand verwag in sy aanslag om Sewes-titel te verdedig
Dit is eintlik heel gepas dat die jaarlikse Interprovinsiale Sewes-toernooi vanjaar in die HT Pelatona-stadion in Welkom aangebied word. Die Vrystaat en veral die Noord-Vrystaat het ‘n reuse rol in Suid-Afrika se sukses op die internasionale verhoog gespeel.
Dit is in hierdie einste stadion waar Blitzbokke soos Cecil Afrika en Branco du Preez vir die eerste keer naam in die Gouvelde gemaak het, voordat hul name regoor die rugbywêreld bekend geraak het. Daar behoort dus ekstra motivering vir ‘n paar spelers tydens die interprovinsiale toernooi te wees om in die voetspore van die twee sterre te volg.
Die Vrystaat is die verdedigende kampioen en sal sy aanslag om sy titel te behou om 11:00 teen die Griffons se tweede span afskop. Die Perses moes ‘n tweede span bymekaar skraap na Grens weens finansiele redes nie die toernooi kan bywoon nie.
Dit is eintlik slegs deur die wilskrag van onderwysers van regoor die land dat die toernooi nie vanjaar ‘n stille dood gesterf het nie. Die toernooi is verlede jaar deur Twizza geborg, maar dit het intussen verval. Die skolereeks wat deur Twizza geborg was en deur School Sports gereël was het na slegs een jaar wel in die slag gebly.
Die Vrystaat het verlede jaar vir die Oostelike Provinsie met 38-21 in die eindstryd in Potchefstroom verslaan. Die verdedigende kampioen is saam met die Sharks en die Valke in ‘n groep geloot. Die Valke behoort ook ‘n sterk span in die veld te stoot met EG Jansen van Boksburg wat onlangs as kampioen van die Noordvaal Sewes gekroon is.
In die Vrystaatse span behoort spelers soos Paschal Ekeji, Ricardo Fourie, Franco Knoete en Nabo Sokoyi die teenstanders behoorlik te laat bontstaan. Vir die Valke kan Jason Edwards en Keagan Balfour vir hulself naam maak.
Die gasheer, die Griffons, is saam met Griekwas, die Goue Leeus en die Limpopo Blou Bulle in ‘n groep geloot. Die Leeus kan met spelers soos Franco Hallet en Ethan Snyman ook sterk aanspraakmakers op die titel wees. In die span van Limpopo is natuurlik Renzo du Plessis wat sonder twyfel weer ‘n paar asemrowende lopies sal afrond.
Twee voormalige kampioene, die Westelike Provinsie en die Blou Bulle, is saam in ‘n groep geloot. Die twee behoort ook vanjaar sterk aanslae te loots om die trofee Saterdag omhoog te hou. Die Streeptruie se Eben Tshimanga is sterk op sy bene en beskik oor hope vaart, terwyl Duran Koevert met sy flinke voetwerk ‘n hele paar verdedigers na lug sal laat gryp.
Die Blou Bulle sal sterk staatmaak op die spelskepper, Jooste Nel, asook die krag en vaart van Bjorn van Wyk. Die ander twee spanne in die groep is die Suid-Afrikaanse LSOB-span (vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes) en die Pumas.
Die uitspeelwedstryde van die toernooi vind Saterdag plaas. Die bepalings vir die uitspeelwedstryde sal Vrydagaand op School of Rugby geplaas word.
Die bepalings:
09:00 – Blou Bulle vs Pumas; 09:20 – Westelike Provinsie vs SA LSOB; 09:40 – Griffons vs Griekwas; 10:00 – Goue Leeus vs Limpopo Blou Bulle; 10:20 – Oostelike Provinsie vs Boland; 10:40 – Suidwestelike Distrikte vs Luiperds; 11:00 – Vrystaat vs Griffons II; 11:20 – Valke vs Sharks; 11:40 – Blou Bulle vs SA LSOB; 12:00 – Westelike Provinsie vs Pumas; 12:20 – Griffons vs Limpopo Blou Bulle; 12:40 – Goue Leeus vs Griekwas; 13:00 – Oostelike Provinsie vs Luiperds; 13:20 – Suidwestelike Distrikte vs Boland; 13:40 – Vrystaat vs Sharks; 14:00 – Valke vs Griffons II; 14:20 – Blou Bulle vs Westelike Provinsie; 14:40 – SA LSOB vs Pumas; 15:00 – Griffons vs Goue Leeus; 15:20 – Limpopo Blou Bulle vs Griekwas; 15:40 – Oostelike Provinsie vs Suidwestelike Distrikte; 16:00 – Luiperds vs Boland; 16:20 – Vrystaat vs Valke; 16:40 – Sharks vs Griffons II.