Voorskou – HJS Paarl vs. Grey-kollege
Die rugbystewel is gewoontlik aan die ander voet vir Grey-kollege more wanneer hy teen die Hoër Jongenskool Paarl in die Paarl sal poog om die tuisspan se onoorwonne status in sy afgelope 30 wedstryde tot ’n einde te bring.
Boishaai se laaste nederlaag op die rugbyveld was in 2014 teen Marlow Landbou van Cradock in die eindstryd van Die Burger se rugbykompetisie vir Grootskole. Boishaai het op daardie dag net buite Cradock naelskraaps met 10-11 teen die Wolramme die knie gebuig.
Die wedstryd sal ook met alle waarskynlik bepaal wie vanjaar bo-aan School of Rugby – en sekerlik ook al die ander skolerugby webtuistes se ranglyste gaan eindig.
Grey beklee tans ons boonste posisie met Boishaai in die tweede plek. Albei spanne is nog onoorwonne vanjaar.
Grey was in ’n goue era van 1985 tot in 1991 vir ’n ongelooflike 87 wedstryde onoorwonne. Die span van die Rosestad het wel in dié tydperk twee keer teen onderskeidelik Paarl Gimnasium (9-elk, 1988) en Grey PE (6-elk, 1990) gelykop gespeel. Grey was tussen 2007 en 2009 ook in 45 wedstryde op ’n streep aan die wenkant.
Sy laaste nederlaag in 1985 was teen Maritzburg College (4-10). Die span van Pietermaritzburg het die toekomstige Wereldbeker-held Joel Stransky op losskakel in sy geledere gehad. Grey het se segetog is in 1991 deur Monument van Krugersdorp (14-16) tot ‘n einde gebring.
Die wedstryd wat regstreeks op SuperSport 10 gebeeldsend sal word sal bepaal wie vanjaar Suid-Afrika se skolespan is. Dit sal gewis Boishaai se grootste toets wees sedert hy verlede jaar aan die indrukwekkende rekord gebou het. Hy word deur die SA Skole-slot, Salmaan Moerat, aangevoer.
Boishaai sal ook teen hierdie tyd deeglik bewus wees van die ekstra druk wat die onoorwonne status elke week op hom laai. Die span se breier, Sean Erasmus, is boonop in die week as die Suid-Afrikaanse Skole-afrigter van 2016 aangewys. Erasmus rig Boishaai saam met Elmo Wolfaardt af.
Grey het die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria in die Jakarandastad met 53-29 met een van die mees indrukwekkende vertonings nog vanjaar op ’n skoleveld verslaan. Boishaai het Affies in Kimberley tydens die Wildeklawer-toernooi met 29-25 verslaan. Die span van die Rosestad het wel heelwat besering in die sege oor Affies opgetel.
Grey se senterpaar, Janco van Heyningen en Rikus Pretorius, is weer herenig met die losskakel, Christopher Schreuder, wat weer sy plek in die span sal inneem. Van Heyningen se tweestryd teen Manny Ras op buitesenter beloof om een van die hoogtepunte in die kragmeting te wees. Ras se oom is die gewese Springbok-skrumskakel, Ricky January. Ras is sonder twyfel een van die voorste buitesenters op skolevlak in Suid-Afrika.
Van Heyningen het hope vaart aan sy kant en is saam met Pretorius nog jongelinge wat volgende jaar ook nog vir Grey kan uitdraf. Die Springbok-legende Os du Randt se seun Thian is ook op Grey se plaasvervangersbank as haker ingesluit. Du Randt het vanjaar van die kant van die skrum na haker geskuif, maar het soos verlede jaar meeste van sy tyd sover vanjaar op die krukkelys deurgebring.
Die spanne is:
HJS Paarl: 15 Gianni Lombaard, 14 Urgene Johannes, 13 Manuel Ras, 12 Hanri van Heerden, 11 Takir Abrahams, 10 Rayhaan Lombaard, 9 Michael Visser, 8 Khanya Ncusane, 7 Francke Horn, 6 Charl Serdyn, 5 Ewie Loubser, 4 Salmaan Moerat (kaptein), 3 Adam Neethling, 2 Daniel Jooste, 1 Reece Bezuidenhout.
Grey-kollege: 15 David Kriel, 14 Henk Cilliers, 13 Janco van Heyningen, 12 Rikus Pretorius, 11 Marnus Boshoff, 10 Christopher Schreuder, 9 Rewan Kruger, 8 Dian Schoonees, 7 Michiel Burger, 6 Wihan Kloppers, 5 Marcel Theunissen, 4 Jaco van Tonder, 3 Gideo Beukes (kaptein), 2 Ru-hann Greyling, 1 Tristan Spies.
Afskop: 14:00
Vorige Kragmetings:
| 2015 | HJS Paarl | 21 | Grey College | 19 | Bloemfontein |
| 2014 | Grey College | 15 | HJS Paarl | 10 | Paarl |
| 2013 | Grey College | 35 | HJS Paarl | 28 | Bloemfontein |
| 2012 | HJS Paarl | 28 | Grey College | 18 | Paarl |
| 2011 | Grey College | 15 | HJS Paarl | 15 | Bloemfontein |
| 2010 | Grey College | 32 | HJS Paarl | 12 | Paarl |
| 2009 | Grey College | 50 | HJS Paarl | 8 | Bloemfontein |
| 2008 | Grey College | 34 | HJS Paarl | 24 | Paarl |
| 2007 | Grey College | 48 | HJS Paarl | 24 | Bloemfontein |
| 2006 | Grey College | 20 | HJS Paarl | 5 | Paarl |
| 2005 | Grey College | 38 | HJS Paarl | 13 | Bloemfontein |
| 2004 | Grey College | 38 | HJS Paarl | 3 | Paarl |
| 2003 | Grey College | 27 | HJS Paarl | 16 | Bloemfontein |
| 2002 | Grey College | 23 | HJS Paarl | 6 | Paarl |
| 2001 | Grey College | 38 | HJS Paarl | 15 | Bloemfontein |
| 2000 | HJS Paarl | 17 | Grey College | 10 | Paarl |
| 1999 | Grey College | 34 | HJS Paarl | 16 | Bloemfontein |
| 1998 | Grey College | 20 | HJS Paarl | 6 | Paarl |
| 1997 | Grey College | 20 | HJS Paarl | 16 | Bloemfontein |
| 1996 | HJS Paarl | 16 | Grey College | 9 | Paarl |
| 1995 | Grey College | 18 | HJS Paarl | 6 | Bloemfontein |
| 1993 | HJS Paarl | 0 | Grey College | 0 | Paarl |




