VKB-week het vanjaar ‘n nuwe geur
Die VKB-week het vanjaar ‘n nuwe geur bygekry met die feit dat daar vanjaar twee weke is, ‘n stedelike en plattelandse toernooi. Die feit dat die NWU-Pukke se o.19-week gekanseleer is, het daartoe bygedra dat die organiseerders van die VKB-week in Reitz hul aanbieding moes aanpas.
Die plattelandse week skop Vrydag in die Oos-Vrystaatse dorp af.
Die Vrystaat Arende het Maandag, vir die eerste keer sedert 2004 toe hulle as kampioen gekroon was, aan die week deelgeneem. Die Arende was in ‘n klipharde stryd teen die Oostelike Provinsie gewikkel, maar het uiteindelik met 27-25 as oorwinnaars van die veld gestap.
Die Arende sal Dinsdag op die tweede dag van die toernooi teen sy buurman, die Griffons te staan. Die Perses is ook vir die eerste keer op die toernooi sedert 2004 in aksie. Die span het toe nog die Flaminke geheet, voordat hulle aan die NWU-Pukke se toernooi begin deelneem het. Die Griffons moes ook sweet om die Valke Suid (Vaaldriehoek) met 24-20 die loef af te steek.
Die Luiperds wat die afgelope paar jaar een van die voorste spanne op die VKB-week was, is sonder twyfel vanjaar weer een van die gunstelinge. Die span het met 49-32 as oorwinnaars van die veld in ‘n opwindende wedstryd teen Valke Oos gestap. Die wenspan se losskakel, Stephan van Niekerk, het sy skopstewels aangehad en al sewe sy span se drieë verdoel.
Die Luiperds kom op die tweede dag teen die Limpopo Blou Bulle te staan wat ook duidelik oor ‘n gedugte span beskik. Limpopo se heelagter, Zander de Ridder, het ook ‘n geleerde skopskoen en het 15 van sy span se punte in sy sege van 40-15 oor Noord-Natal aangeteken. Die wenspan se agtsteman, Vincent van Niekerk, het ook twee keer oor die Noord-Natallers se doellyn gebars.
Puntemakers:
Luiperds 49 (14) – Drieë: Zak Delport (2), Elardo Raath (2), Coetzee Potgieter, Lebo Thakolo, Louis Viviers. Doelskoppe: Stephan van Niekerk (7). Valke Oos 32 (29) – Drieë: Wernich Aucamp, David Kruger, Jeandré van Dyk, Tiaan Venter. Doelskoppe: Boshoff (3). Strafdoele: Boshoff (2).
Limpopo Blou Bulle 40 (19) – Drieë: Vincent van Niekerk (2), Zander de Ridder, Rudie Hattingh, Taylor du Plessis, David Human. Doelskoppe: De Ridder (2). Strafdoele: De Ridder (2). Noord-Natal 15 (5) – Drieë: Andi Niebuhr, Siza Mhlongo, DJ Koekemoer.
Vrystaat Arende 27 (17) – Drieë: Herman Steenkamp, Arno Pienaar, Ivan Roberts. Doelskoppe: DJ van Pletzen (3). Strafdoele: Van Pletzen (2). Oostelike Provinsie 25 (15) – Drieë: T van der Walt, Eben Lategan, Danie Kotze. Doelskoppe: G Hoffman (2). Strafdoele: Hoffman (2).
Griffons 24 (17) – Drieë: Ryan Davids, Craig Colby, Neo Mhlabai, Sibabalwe Sooi. Doelskoppe: Davids (2). Valke Suid 20 (8) – Drieë: M Nyirenda, R Boshoff , H Snyman. Doelskop: R Bezuidenhout. Strafdoel: Bezuidenhout.