Uitslae van die Beeldtrofee se onderskeie streke se halfeindstryde
Die eindstryd om die titel as kampioen van die Luiperds se Groot skole-rugbyliga tussen Hoërskool Lichtenburg en Hoërskool Klerksdorp beloof om een van die taaistes in jare te wees.
Albei spanne het na Saterdag se laaste rondomtalie-wedstryde van die liga met 23 punte ligapunte bo-aan die puntelys geëindig. Lichtenburg sal gasheer van die eindstryd op 26 Julie wees na sy oortuigende sege van 67-7 oor Potchefstroom-Gimnasium Saterdag aan hom ’n beter punteverskil besorg het.
Die agtsteman Johan Dettman het drie drieë gedruk. Die span se losskakel Jan-Wessel Meyer het 21 punte tot sy span se sege bygedra.
Hy het nege van sy span se tien drieë gedoel en ook ’n skepdoel behaal.
Klerksdorp het in sy kragmeting teen Potchefstroom Volkskool met 38-15 koning gekraai. Die span se linkervleuel, Riaan Scholtz, het Volkies se doellyn twee keer oorgesteek.
Hoërskool Vryburg is die Luiperds se mediumskole-kampioen van 2014 na hy Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp op sy tuisveld met 25-21 tot oorgawe gedwing het.
Die span se heelagter, Francois Pelser, was die tuisspan se held in die sege. Pelser het goed by die agterlyn aangesluit en twee keer deurgedraf vir ’n drie. Wesvalia het voorlangs die botoon gevoer en was rustyd met 13-12 voor.
) Die Hoërskool Tuine het die bordjies teen Pretoria-Noord in die halfeindstryd van die Blou Bulle se Groot-skoleliga verhang. Tuine het die halfeindstryd tussen die twee spanne op ’n drafstap met 54-0 gewen. Pretoria-Noord was verlede week in die laaste ronde van die liga met 23-17 oor Tuine baas.
Tuine sal teen Oos-Moot in die eindstryd van die liga te staan kom. Oos-Moot was in sy halfeindstryd teen Overkruin met 29-7 baas.
) EJ Jansen en Kemptonpark sal mekaar in die eindstryd van die Valke se Makro-liga ontmoet. EG Jansen het Saterdag op Dr. Malan se hoofveld in Meyerton vir Vereeniging Gimnasium met 62-0 van die veld gevee. Kemptonpark het self nie veel probleme ondervind om Jeugland met 42-0 kaf te draf nie.
In die Groot-skole halfeindstryde op dieselfde veld was Transvalia en Hugenote van Springs aan die wenkant. Transvalia het Driehoek met 43-20 verslaan, terwyl Hugenote met 22-20 oor Heidelberg Volkskool baas was.
) In die Pumas se halfeindstryd in die Groot-skole se liga was Standerton met 38-29 te sterk vir Hoërskool Ermelo, terwyl Volksrust hard moes werk vir sy sege van 23-21 oor Ligbron.
Ligbron se Cravenweek-losskakel, Muller Joubert, het al sy span se punte met ses strafdoele en ’n skepskop aangeteken. Die verloorspan het ook meeste van die gebiedsvoordeel geniet, maar kon dit net nie in drieë omskep nie.
) Frikkie Meyer het Ben Vorster met 16-14 in die Limpopo halfeindstryd vir Groot-skole uitgeskakel. Die span se Cravenweek-losskakel, Benhard van Rensburg het laat in die wedstryd met ’n strafdoel geslaag om aan sy span dié sege te besorg.
Die wenspan se agtsteman en kaptein, Hendrik du Plessis, het self ’n uitstaande vertoning gelewer.
Vir Ben Vorster was sy vleuel Eddie Engelbrecht en skrumskakel Diederik Oberholzer, uitstaande. In die ander halfeindstryd van Hoërskool Pietersburg met 34-17 oor Piet Pogieter baas.
) Helpmekaar gaan moeilik in die Leeus se afdeling vir Groot-skole geklop word. Die span was te sterk vir Hoërskool Randburg in die halfeindstryd van die liga en het met 52-15 as oorwinnaars van die veld gestap. Linden het in die ander halfeindstryd oor Bastion met 23-13 koning gekraai.
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15
- Rondebosch finish the prestigious Peninsula Festival as the only unbeaten side - 2025-01-12