SuperSport Schools Plus

Trekkers ploeg voort in Griffons-liga

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-12 Tags: , , , , ,

FOTO: Wessel Hattingh

Die Noord-Vrystaat is die afgelope naweek bederf met ‘n paar aksiebelaaide skolerugby-kragmetings.

Hentie Cilliers het Saterdag met tye skouspelagtige spel gelewer op hul tuisveld in Virginia, maar Voortrekker het uiteindelik oor té veel skietgoed beskik om met 37-12 te seëvier.

Witteberg het agt drieë ingeryg vir ‘n wegholsege van 52-0 oor Goudveld in Bethlehem, terwyl Welkom Gimnasium en Hoërskool Trio met 17-17 gelykop gespeel het in Kroonstad.

Beleef die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nouSkakel na Hentie Cilliers t. Voortrekker

Hentie Cilliers het die tuisskare in Virginia vroeg op hulle voete gehad, toe Itumeleng Koqo die Trekkers in sy stof laat byt het vir die eerste drie van die wedstryd. Die Voortrekker-pak het egter kort daarna vir Arnold Ras oorgedryf om sake weer gelykop te laat trek.

Ondanks die seuns van Hentie Cilliers se dapper verdediging, het die besoekers nog twee keer deurgebreek voor rustyd om ‘n voorsprong van 15-5 op te bou. Hul tweede drie, deur Voortrekker se Cravenweek-agsteman, Dawie Fourie, was die resultaat van ‘n sterk rolmaalbeweging, terwyl binnesenter, Craig Mann, bo-oor ‘n paar verdedigers gehardloop het vir die derde.

Na die omdraaislag was die tuisspan weer eerste uit die blokke, met Kaneng Komane wat afgerond het met ‘n pragdrie om die agterstand na 12-15 te laat krimp. Dit was egter die laaste keer dat die manne van Bethlehem vir Henties deurgelaat het, en ál moes hulle steeds hard werk, het die besoekers die res van die kragmeting oorheers.

Voortrekker se massiewe pak, met hul Cravenweek-stut, Cecil Parsons, aan die spits, het die tuisspan saggemaak vir Tumi Khoza, Tristan Meyer en Kaneng Komane om die skroewe behoorlik vas te draai.

Witteberg het die lynstane teen Goudveld in só ‘n mate oorheers dat hul Akademieweek-haker, Jacques van der Merwe, drie dryfmaaldrieë tot sy naam kon voeg in hul reuse oorwinning van 52-0.

Dit is die tweede slag vanjaar dat Witteberg die 50-punt kerf kon verbysteek in die Wesgrow Sentrale-sportreeks. Hulle het vroeër vir Hoërskool Sentraal met 51-8 kafgedraf.

Welkom Gimnasium gee tot dusver hierdie seisoen die pas aan in die Noordweste, en spog derhalwe ook vanjaar met 10 spelers in die Cravenweek-oefengroep.

Hoërskool Trio het egter gewys dat selfs die bestes kan swaar trek in Kroonstad, deur vir die “swarttruie” tot ‘n gelykopuitslag van 17-17 te beperk.

Skrumskakel, Ethan Smit, en binnesenter, Tyron Adams, het uitgeblink vir die tuisspan om ‘n witwarm Welkom-aanslag in bedwang te hou, terwyl die Trio-flank, Pieter van Schalkwyk, voorlangs ook vir die besoekers kopsere besorg het.

Die Gimmies se ster-heelagter, Ronaldo Kiewiet, het 12 van sy span se punte aangeteken. Kiewiet was verlede jaar die voorste driedrukker op die Cravenweek, waar hy vir die Griffons op losskakel uitgedraf het. Vanjaar se Cravenweek-flank, Rylin Kirsten, het hul ander drie gedruk.

Puntemakers:

Voortrekker 37 (15) – Drieë: Tumi Khoza (2), Arnold Ras, Dawie Fourie, Craig Mann, Tristan Meyer, Kaneng Komane. Doelskop: Christiaan van der Sandt. Hentie Cilliers 12 (5) – Drieë: Itumeleng Koqo, Kelebogile Mothibi. Doelskop: Meguel Davids.

Witteberg 52 (28) – Drieë: Jacques van der Merwe (3), Sydwell Sethi, Janco Swart, Pieter Nel, Colin van der Merwe, Kenyon Morat. Doelskoppe: Llewellyn Beukes (6). Goudveld 0.

Hoërskool Trio 17 – Drieë: Tyron Adams, Jayden Windvogel. Doelskoppe: Byron Biennas, Byron Maggerman. Strafdoel: Biennas. Welkom Gimnasium 17 – Drieë: Ronaldo Kiewiet, Rylen Kirsten. Doelskoppe: Kiewiet (2). Strafdoel: Kiewiet.

 

Ander tellings

o.19 – Voortrekker II 59, Hentie Cilliers II 0; Voortrekker III 58, Hentie Cilliers III 0; Welkom Gimnasium II 32, Trio II 10; Welkom Gimnasium III 31, Trio III 0; Witteberg II 12, Goudveld II 12; Witteberg III 19, Goudveld III 5; Witteberg IV 26, Goudveld IV 12.

o.16 – Voortrekker A 21, Hentie Cilliers A 17; Welkom Gimnasium A 22, Trio A 10; Welkom Gimnasium B 33, Trio B 0; Witteberg A 34, Goudveld A 10; Witteberg B 47, Goudveld B 7.

o.15 – Voortrekker A 55, Hentie Cilliers A 0; Trio A 53, Welkom Gimnasium A 0; Trio B 17, Welkom Gimnasium B 14; Witteberg A 29, Goudveld A 7; Witteberg B 42, Goudveld B 5.

o.14 – Voortrekker A 55, Hentie Cilliers A 0; Trio A 29, Welkom Gimnasium A 7; Trio B 22, Welkom Gimnasium B 12; Witteberg A 54, Goudveld A 0; Witteberg B 17, Goudveld B 12.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.