Stuart steel eerste sege in ses jaar vir Bere op Ras van Rooyen

Die Bere het Saterdag ‘n wendroogte van ses jaar op die Ras van Rooyen-veld beëindig.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Garsfontein het vir die eerste keer sedert 2018 ‘n sege oor sy tradisionele aartsvyand, Hoërskool Monument, op Monnas se tuisveld in Krugersdorp behaal. Die Bere het vir die Wit Bulle met 31-28 getroef, danksy ‘n drie deur Junaide Stuart in die doodsnikke.
Dit het ‘n wipplankstryd afgegee tussen twee spanne wat albei desperaat was vir ‘n oorwinning in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Die Garsies was blitsig uit die blokke met oopkantflank, Stephan Pretorius, wat binne die eerste paar minute uit gebroke spel losgebreek het om sy span se rekening te open met ‘n drie. Dit het die vonk verskaf vir die besoekers om die oorhand te geniet vir die grootste gedeelte van die kragmeting.
Hul voorspelers het die Wit Bulle se reuse pak deurgaans oor die veld rondgeskuif, wat mettertyd gapings vir die Pretorianers laat oopgaan het. Die Bere het teruggekeer na dit wat hulle tradisioneel gevaarlik maak en die bal lekker lug gegee agterlangs.
Pretorius was deurentyd prominent met die bal in hand en het saam met Garsies se SA Skole-slot, James Schnetler, die Wit Bulle se verdediging met mening aangevat.
Die tuisspan se uitstaande linkervleuel, Ernesto Oersen, het egter nog ‘n drie op sy reeds indrukwekkende kerfstok vanjaar geplaas. Oersen se vermoë om verdedigers te klop het ‘n groot aandeel in sy span sukses agterlangs gehad en sy vennootskap met heelagter, Caylum Shooney, het die Bere se verdediging dikwels getoets.
Die besoekers het die toets egter met vlieënde vaandels geslaag – letterlik en figuurlik. Hul verdediging het die Wit Bulle se meedoënlose aanslag afgeweer en uiteindelik, danksy Stuart se drie, ‘n allerbelangrike uitslag in hul Beker-veldtog verseker.
Puntemakers:
Garsfontein 31 (24) – Drieë: Stephan Pretorious, Ruan Enslin, James Schnetler, Junaide Stuart. Doelskoppe: Handre Maree (4). Strafdoel: Maree. Monument 29 (14) – Drieë: Evan Bernhardi, Ernesto Oersen, Caylum Schooney, Ewan van der Walt. Doelskoppe: Caylem Schooney (3) Strafdoel: Cruz La Moer.
Ander spanne:
o.16: Monument 23, Garsfontein 20.
o.15: Garsfontein 17, Monument 15.
o.14: Monument 16, Garsfontein 13.
- Genis, Strydom plaas Middies in stewige posisie vir promosie-stryd - 2025-02-13
- Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer - 2025-02-12
- Klofies beëindig Ysbere-segetog - 2025-02-12