Smith’s speel gelykop in stryd tussen Diamantveld en Nico Malan
Die gelykop-uitslag van 17-elk tussen Diamantveld en Nico Malan was nie soos die gesegde om jou suster te soen nie, maar liewer soos om jou broer te soen. Die kragmeting was deel van Hoërskool Outeniqua se 90ste bestaansjaar vieringe Saterdag in George. Dit was Diamantveld van Kimberley se hoofafrigter, MJ Smith se laaste wedstryd aan stuur van sake van die span. Smith se jongste broer Abé is Nico Malan van Humansdorp se spanbestuurder. “Daar was gelukkig nie ‘n verloorder nie,” het Abé Smith na afloop van die wedstryd gesê.
Grey-kollege het Vrydag op sy tuisveld gewys dat hy te veel krag vir KwaZulu-Natal se voorste span Glenwood het. Die tuisspan was 68-7 in die kragmeting baas. Die span van die Rosestad het reeds teen lemoentyd ‘n stewige voorsprong van 30-0 opgebou.
Die heelagter Henry Immelman het met sy spel in die wedstryd gewys dat hy reg is om volgende jaar EW Viljoen se tokse in die laaste vesting van die eerstespan vol te staan. Viljoen en die stut Ruan Kramer het die kragmeting weens hulle verpligtinge saam die Suid-Afrikaanse Skole-span misgeloop.
Die flank Luan Reynders was sy span se beste speler voorlangs. Hy is goed deur die slot De Wet Bezuidenhout, stut Andrew du Plessis en slot Casper Fourie bygestaan.
Agterlangs het die losskakel André Swarts weer met sy spel beïndruk. Hy het 23 van sy span se punte aangeteken. Hy het een drie gaan druk, ses van sy span se tien drieë verdoel en ook twee strafdoele oorgeklits. Die senter Johan Nel en vleuel Charl Pretorius verdien ook elk ‘n klop op die skouer.
Die Cherries het verlede week vir Sand du Plessis 58-6 afgeransel. Die wenspan het teen rutsyd wat na 31 minute se spel in die eerste gehelfte gehou is 43-6 voorgeloop. Die tweede helfte was slegs ses minute lank.
In Upington was dit Vrydag weer Groot Interjol. Duineveld was in die jaarlikse interskole-kragmeting op die dorp 22-3 aan die wenkant. Uppies se punte het via ‘n skepdoel van Jonathan Steenkamp gekom.
Puntemakers:
Grey-kollege 68 (30) – Drieë: Johan Nel (2), Theo Ferreira (2), Andrew du Plessis, Luan Reynders, André Swarts, Charl Pretorius, Carel Durow, Stephanus Lingenfelder. Doelskoppe: Swarts (6). Strafdoele: Swarts (2). Glenwood 7 (0) – Drie: Nkululeko Mcuma. Doelskop: Corné Vermaak.
Cherries 58 (43) – Drieë: Niel Stannard (2), Albert Verwey, Glen Erickson, Dian Badenhorst, Jacques du Preez, AJ Prinsloo, Dylan Harlen, Martin van Niekerk, Ruben Terblanché. Doelskoppe: Julian Delicado (2), Stannard (2). Sand du Plessis 6 (6) – Strafdoele: JB la Cock (2).
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16