Skeidsregters vir vanjaar se Cravenweek bekend
DIE eerste en enigste Vrystaatse skeidsregter wat nog ooit ‘n hoofwedstryd op die Cravenweek vir hoërskole hanteer het, Jaco Kotzé sal vanjaar ook op die 50ste weergawe van dié toernooi in aksie wees. Dié toernooi vind van 8 tot 13 Julie in Polokwane plaas.
Kotzé het verlede jaar die eerste Vrystater geword in die toernooi se hoofwedstryd te blaas toe hy dié kragmeting tussen die Blou Bulle en Leeus in Port Elizabeth hanteer het. Die Vrystaatse Cravenweek-span se sukses sedert die ontstaan van dié toernooi in 1964 het grootliks daartoe bygedra dat geen Vrystater nog voor Kotzé die eer gehad het om die fluitjie in ‘n hoofwedstryd te dra nie.
“Ek sien dit as ‘n groot geleentheid vir my om weer vir SA Rugby op die Cravenweek te blaas. ‘n Ou kan nie jou doelwit maak om weer die hoofwedstryd te blaas nie omdat daar soveel faktore ‘n rol tot so ‘n aanstelling speel. My doelwit vir die toernooi is om elke wedstryd waarin ek betrokke is ‘n vertoning van hoë gehalte te lewer,” het Kotzé gesê.
Kotzé het vanjaar reeds goeie ondervinding bygedoen. Hy het die moeilike ENB Classic Clash tussen Hoërskool Noord-Kaap en Diamantveld op GWK-park geblaas. Hy was ook die skeidsregter in die Classich Clash tussen Grey-kollege en Affies verlede week. Affies het in die kragmeting vir Grey hulle eerste nederlaag in Bloemfontein sedert 2006 toegedien.
Kotze is egter nie al skeidsregter wat om vanjaar se toernooi sal blaas wat al ‘n hoofwedstryd hanteer het nie. Archie Sehlako het 2009 se hoofwedstryd tussen die Vrystaat en Westelike Provinsie in Oos-Londen hanteer. Die Streeptruie het die kragmeting 19-17 gewen met die Springbok-slot Eben Etzebeth wat as speler van die wedstryd aangewys is.
Matt Kemp het in 2006 se hoofwedstryd in Johannesburg tussen die Leeus en die Blou Bulle as lynregter diens gedoen.
Die enigste ander Vrystater wat op die nasionale skoleweke in aksie sal wees is Marlize Jordaan wat die Akademieweek in Durban gaan bywoon. Twee van die Griffons se skeidsregters, AJ Jacobs en Enrico van Rooyen sal op die Grant Khomo-week vir o.16-spanne diens doen. ‘n Voormalige skeidsregter van die Perses, Wilco Esterhuizen sal ook op dié week in aksie wees. Hy val egter deesdae onder die Blou Bulle se structure. Griekwas se Nico Schmahl sal ook na dié week as ‘n beampte gaan.
Die skeidsregters vir vanjaar se 50ste Cravenweek is:
Jaco Kotzé (Vrystaat), Cwengile Jadezweni, Daniël Fortuin, Francois Pretorius, Matt Kemp (almal Westelike Provinsie), Lihan Pretorius (Valke), Oregpotse Rametsi (Luiperds), Eduan Nel, Tahla Ntshakaza (albei Leeus) en Archie Sehlako (Sharks).
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22