Simelane en Pretorius sterre van Noordvaal Bondedag
SASOLBURG. – As daar twee spelers op die jaarlikse Noordvaal Bondedag in die DP de Villiers-stadion hier in aksie was, wat gewis die nasionale keurders se aandag getrek het, was dit sonder twyfel die Goue Leeus se Wandile Simelane en die Pumas se JC Pretorius.
Simelane het in ‘n verloorstryd van 35-29 teen die Pumas kop en skouers bo al die agterspelers op die Bondedag met sy vertoning uitgestaan. Hy het op die aanval ‘n hele paar keer soos ‘n warm mes deur botter deur die Pumas se verdediging gesny.
Pretorius is die volgende Kwagga Smith. Hopelik gaan die keurders nie soos in 2011 met Smith vir Pretorius vir die nasionale span oor die hoof sien nie. Hy was by die afbreekpunte ‘n yster en het ook in die vastelos gewoel. Hy is goed deur sy flankmaat, Chrisjan Steynberg, bygestaan.
Simelane en Pretorius is albei nog o.17, maar indien hulle dié vertonings op die Cravenweek kan dupliseer verdien albei plekke in die nasionale span. Daar word boonop na afloop van vanjaar se Cravenweek in Stellenbosch twee nasionale spanne gekies.
Die Blou Bulle het die Valke in die hoofwedstryd van die Bondedag met 30-17 verslaan. Die Valke was danksy ‘n drie deur sy losvoorspeler Damian Karelse met die telling op 20-17 terug in die wedstryd.
‘n Geelkaart aan die Ligbloues se SA Skole skrumskakel, Embrose Papier, het egter die vuur terug in die Bulle gesit. Eers het die vleuel Runan Venter die doellyn oorgesteek, met die ander vleuel Snowy Zondani wat kort na hom ook in die doelgebied oorgeval het.
Die Vrystaat sal tevrede met sy sege van 31-19 oor KwaZulu-Natal wees, maar daar lê nog skaafwerk voor die Cravenweek voor. Die Piesangboere het danksy twee mooi drieë deur sy skrumskakel, Matthew Jon Dahl, ‘n voorsprong van 19-14 teen die omdraaislag geniet.
Die Vrystaters het in die tweede helfte met meer ywer gespeel en veral die vleuel Godfrey Simelane was op die aanval ‘n doring in KwaZulu-Natal se vlees. Die vleuel Niel Durow en flank Jabulani Mtshatsheni het ook blink vertonings vir die wenspan gelewer.
Die Griffons se flank Gift Dlamini het die vonk verskaf vir sy span se sege van 33-16 oor die Luiperds. Dlamini het ‘n hele paar keer met sy lopies die Perses op die voorvoet gekry.
Daar moet ook melding gemaak word van die stut Neo Mohapi wat by die afbreekpunte met sy fisieke spel die Luiperds probleme besorg het. Sy harde duikslag op die verloorspan se SA Skole-agtsteman, Edmund Rheeder, vroeg in die wedstryd was dalk die grootste rede dat Rheeder nie veel van sy kenmerkende lopies ingekry het nie.
As daar een span is wat nie veel wyser is na hulle kragmeting in Sasolburg nie, is dit die Limpopo Blou Bulle. Die span van die destydse Verre Noord het gemaklik met 48-7 teen Eye of the Tiger koning gekraai. Die Eye of the Tiger is ‘n akademie van Johannesburg se span.
Limpopo sou teen Griekwaland-Wes gespeel het, maar dié het onttrek. Die wenspan se vleuel, Pule Molokomme, was sy span se beste speler op die dag.
Puntemakers:
Blou Bulle 30 (20) – Driee: Schalk Erasmus, Louritz van der Schyff, Runan Venter, Snowy Zondani. Doelskoppe: Andell Loubser (2). Strafdoele: Loubser (2). Valke 17 (3) – Driee: Xander Crause, Damian Karelse. Doelskop: Crause. Strafdoel: Crause.
Pumas 35 (14) – Drieë: Mlondi Mnisi, Marnus van der Merwe, Fana Ngwenya. Doelskop: Wessel Muller. Strafdoele: Muller (6). Goue Leeus 29 (10) – Drieë: Justin Brandon, Lwazi Monakali, Michael Tambwe, Hacjivah Dayimani, Wandile Simelane. Doelskoppe: Simelane (2).
Vrystaat 31 (14) – Drieë: Godfrey Simelane (2), Niel Durow, Jurie Burger, Jabulani Mtshasheni. Doelskoppe: Tiaan Schutte (3). KwaZulu-Natal 19 (19) – Drieë: Matthew Jon Dahl (2), Khuthazani Mchunu. Doelskoppe: Werner-Bader Pretorius (2).
Griffons 33 (5) – Drieë: Fanie Vermaak, Gift Dlamini, Marco Labuschagne, Donovan Bouwer, Luan James. Doelskoppe: James (4). Luiperds 16 (9) – Drie: Thabanchu Katleho. Doelskop: André Kock. Strafdoele: Kock (3).
Limpopo Blou Bulle 48 (38) – Drieë: Stephan Nel (2), Pule Molokomme (2), JV Coertze, Franco van der Watt, Salie Vermaak, Matinu Manganyi. Doelskoppe: Wernick Kachelhoffer (4). Eye of the Tiger 7 (0) – Drie: Chadwin November. Doelskop: November.




