Sharks wys met rukke en stote wat in hul steek
Die Sharks se o.18-rugbyspan sal vanjaar weer ‘n sterk aanspraakmakers wees om in die hoofwedstryd van die Cravenweek te speel. Die toernooi vindd volgende maand in die Paarl plaas.
Die span van Durban het tydens die kleedrepetisie van die toernooi, die Noordvaal Bondedag in die Mbombela-stadion, die Blou Bulle met 25-17 die loef afgesteek.
Die twee spanne se matrieks het twee jaar gelede in die hoofwedstryd van die Grant Khomo-week (vir o.16-spanne) kragte gemeet. Gister se wedstryd het egter nie die feit weerspieël nie.
Die eindtelling vlei sonder twyfel die Blou Bulle poging in die wedstryd. Die Sharks was deuregans in beheer. Die span het wel nie al sy geleenthede afgerond nie. Die Sharks het heelwat geleenthede geskep en heelwat proefnemings op die aanval op die proef gestel.
Die wenspan se losskakel, Rynhardt Jonker, het vele vrae aan die Ligbloues se verdediging gevra. Sy balverspreiding asook besluitneming was van hoogstaande gehalte. Die Sharks se SA Skole-skrumskakel, Jaden Hendrikse, was nie in aksie nie en sal ook die Cravenweek weens ‘n kniebesering misloop.
Die flank Sibusiso Sangweni, senter Lwandile Meze asook die vleuel Siyanda Cele het blink vertonings vir die wenspan opgedis. Cele het ‘n hele paar keer die Blou Bulle se verdediging met sy vaart ontbloot.
Die Blou Bulle het nog heelwat werk oor voor vanjaar se Cravenweek. Die span se skrumwerk asook lynstane het gelol.
Die span se SA Skole-senter, Diego Appollis, was ook nie op sy stukke met sy twee verskynings op die veld nie. Hy sukkel egter met ‘n ligte besering, maar behoort op alle silinders tydens die Cravenweek te vuur. Indien Appollis nie op sy stukke is nie sal die Ligbloues se aanval nie veel tande agterlangs hê nie.
Vir die Ligbloues kan die loskopstut, Dewald Donald, asook die skrumskakel, Bernard van der Linde, tevrede met hul vertonings voel. Laasgenoemde het met sy verskyning op die veld die tempo verhoog.
Puntemakers:
Sharks 25 (13) – Drie: Sam Radebe, Lwandile Menze, Joe Jonas. Doelskoppe: Rynhardt Jonker, Joe Jonas. Strafdoele: Jonker (2). Blou Bulle 17 (7) – Driee: Raynard Roets, Bernard van der Linde. Doelskoppe: Regardt Roets (2). Strafdoel: Jonker.




