Sentrale kontrakte kan álmal baat
Dit het hoogtyd geword dat die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) ’n sentrale kontraktering-stelsel in werking stel.
Die land gaan ná volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi nóg meer spelers aan die buiteland afstaan. Dis dus belangrik dat stappe gedoen word om te verseker dat die Springbok-span nie verswak word nie.
Maar hoe kan só ’n stelsel werk?
Die nasionale skolekeurders, met die hulp van die Jong Bokke se o.20-afrigter, Dawie Theron, moet by die Cravenweek kragte saamspan en jaarliks ’n groep van 120 talentvolle o.18-spelers identifiseer wat tot op o.21-vlak deur Saru gekontrakteer kan word.
Dié spelers word dan deur Saru na die 14 unies ontplooi. ’n Speler wat byvoorbeeld nie gaan swot nie, word by die Griffons, Grens of Suidwestelike Distrikte geplaas en moet ook in dié drie jaar ’n ambag voltooi. Spelers wat studeer, moet gestuur word na ’n unie en universiteit met die nodige fasiliteite.
Geen unie of agent mag by ’n speler betrokke raak voordat hy sy o.21-jaar voltooi het nie. Só sal elkeen van Suid-Afrika se 14 unies elke jaar ongeveer agt spelers van gehalte ontvang.
Die unies moet dan hul junior spanne uit eie geledere aanvul. Sodoende is daar ’n geleentheid vir spelers wat deur die sif val om steeds rugby as ’n beroep te volg en sal dié wat laat ontwikkel, ’n beter kans staan om provinsiale rugby te speel.
Só ’n stelsel sal Saru dwing om te sorg dat elke unie se junior-afrigters van gehalte is, sodat die volgende generasie in veilige hande is.
As al 14 unies, deur sentrale kontraktering, kwaliteit-spelers in sy junior spanne het, sal die goeie spelers by die kleiner unies die kans kry om vir dié unies se senior spanne uit te draf.
Dié spelers kan ná hul jaar as o.21-spelers deur die groot unies opgeraap word.
Dit sal voorkom dat junior spelers wat nie die paal haal nie, sonder ’n kwalifikasie ’n loopbaan buite rugby probeer volg.
Die Curriebeker-reeks sal vergroot moet word om al 14 unies in te sluit, wat in twee afdelings meeding.
Rugbymense is dit eens dat dit nie gesond is vir die kleiner unies om deurgaans groot pakke slae by die groter unies te kry nie, maar dit is ook nie net ’n slegte ding nie.
Ek glo dis belangrik vir ’n speler se ontwikkeling dat hy leer hoe om ’n span “te bêre” wanneer dié geleentheid hom voordoen. Hy sal ook leer hoe om taai kragmetings te wen.
Dit sal help dat kleiner unies nie net boedel oorgee nie.
Dié voorstel sal Saru meer geld uit die sak jaag, maar dit sal ook die spanne versterk.
Hopelik sal Saru dié voorstel oorweeg, want dis in belang van rugby.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16