SA Skole trotse wenrekord teen Engelse kwyt
Die Suid-Afrikaanse skolerugbyspan se onoorwonne rekord sedert 2009 het gister in die Markotter-stadion in Stellenbosch teen Engeland in die slag gebly.
Die Engelse het met 30-22 koning gekraai nadat hulle rustyd reeds met 19-8 voor was.
Die Suid-Afrikaners se laaste nederlaag was vyf jaar gelede in Kimberley teen die einste Engelse (45-13).
’n Teleurgestelde kaptein, Eduard Zandberg, het ná gister se stryd erken sy span se verdediging – veral vroeg in die kragmeting – het hom in die steek gelaat. Die Engelse is heeltemal te veel beweegruimte gegun, terwyl die tuisspan ook heelwat duikslae verbrou het.
Boonop was die vleuel Keanu Vers die enigste speler wat werklik die Engelse verdediging beproef het.
Vers het twee van die Bokkies se drie drieë gedruk en het ook die aanvoorwerk vir die ander drie (deur die senter JT Jackson) gedoen. Dit was so hittete of Vers het ’n driekuns behaal.
Ook die Suid-Afrikaners se lynstane het gelol – soos die drie deur die besoekers se Sam Underhill getuig.
Dít het die gasheer met die telling op 24-8 met die rug teen die muur gelaat.
Vir die Bokkies het die agtsteman Edmund Rheeder – soos in ’n vroeër sege oor Wallis – ’n blink vertoning opgedis.
Die Bokkies het wel stewige oorwinnings in dié internasionale reeks – teen Frankryk (28-13) en die jong Drake (40-15) – behaal.
) Suid-Afrika het vanjaar van drie kapteins in drie wedstryde gebruik gemaak en ook verskeie veranderings aangebring.
Jaco Coetzee (Glenwood) en Barend Smit (HTS Middelburg) het die Bokkies onderskeidelik teen die Baba-Hane en Wallis aangevoer.
Buiten Vers, het Jackson, Rheeder, die losskakel Curwin Bosch en die senter Heino Bezuidenhout die meeste in dié wedstryde beïndruk.
Gister het die Engelse kaptein en flank, Charlie Beckett, egter gewys dat hy nog ’n gróte in wêreldrugby gaan word.
) Punte:
Engeland 30 (19): Drieë: Sam Underhill, Rotimi Segun, Max Clark, Joe Batley. Doelskoppe: Harry Mallinder (2). Strafdoele: Rory Jennings (2).
Suid-Afrika 22 (8): Drieë: Keanu Vers (2), JT Jackson. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoel: Bosch.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16