SuperSport Schools Plus

Rooiskool verras Tralies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-03-24

DIE Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se eerste rugbyspan het vir die grootste opskudding sover die seisoen op sy jaarlikse sportdag gesorg toe hy vir Hoërskool Sentraal in die hoofwedstryd 12-7 die loef afgesteek het.

Die Rooiskool se agtsteman, Francois Stemmet was die vuur agter sy span se oorwinning. Hy het die bal goed gedra en ook goed op verdediging gevra. Hy is na afloop van die kragmeting welverdiend as speler van die wedstryd aangewys. Die Tralies het in die kragmeting as gunsteling op die veld gedraf na hy verlede week vir Waterkloof van Pretoria verslaan het.

Sentraal se kantman, Ben Kok het sy span en die wedstryd se enigste drie gedruk. Vir die gasheer het sy flank JP Kalp en senter Kobus Kleyn ook uitstaande vertonings gelewer.

Die kragmeting tussen Louis Botha en Hentie Cilliers het aan verwagtinge voldoen en die span van die Rosestad het 40-16 as oorwinnaars van die veld gestap. Hentie Cilliers het rustyd 13-12 voorgeloop. Die span se skrumskakel, Jaywinn Juries het met sy skopskoen die span van Virginia in die wedstryd gehou.

Louis Botha se flank Victor Maruping en skrumskakel Shirwin Cupido was hulle span se grootste uitblinkers. Juries se balverspreiding vanaf die oond sowel as taktiese spel was weer van hoogstaande gehalte. Die losskakel Syvester Lewis en flank Damian May was saam Juries vir Henties staatmakers.

Hoërskool Klerksdorp het Welkom Gimnasium 12-6 geklop. Die swart masjien van Welkom se enjin het glad nie gebrul soos wat sy perdekrag aandui nie. Die span sal glad nie tevrede met die nederlaag wees nie.

Goudveld-Hoërskool het sou ook wou beter vaar as sy nederlaag van 15-19 teen Hoërskool Sasolburg. HTS Welkom het die slegte dag vir spanne van Welkom afgeskop toe hy teen Bothaville 5-28 die onderspit gedelf het.

Vir Bothaville het sy heelagter Armand Grobler ‘n blink vertoning met twee drieë afgerond. Die span se beste speler in die sege was egter sy flank Drikus Klopper.

Die slot Alex Dodge en tweeling-stutte Armand en Donovan van Wyk ka nook meer as tevrede met hulle vertonings voel.

Hoërskool Kroonstad het met ‘n oortuigende sege van 23-0 oor Brandfort gewys dat hy vanjaar ‘n veel sterker span as die vorige paar jaar in die veld gaan stoot. Die span se agtsteman, Reinhard Kleynhans was aan die spits van die sege. Agterlangs was Philru Wepener Blouskool se beste speler.

Puntemakers:

AHS Kroonstad 12 (6) – Strafdoele: Jeandré Uys (2), Ruben Aucamp (2). Sentraal 7 (7) – Drie: Ben Kok. Doelskop: DP de Lange.

Louis Botha 40 (12) – Drieë: Victor Maruping (2), Shirwin Cupido, Dale Koopman, Joseph Dweba, Greydon Wenn. Doelskoppe: Jeandré Christiaan (5). Hentie Cilliers 16 (13) – Drie: Sylvester Lewis. Doelskop: Jaywinn Juries. Strafdoele: Juries (3).

Hoërskool Klerksdorp 12 – Drieë: Almeru van Wyk (2). Doelskop: Eric Hough. Welkom-Gimnasium 6 – Strafdoele: JL Carry-Smith, Francois Kuiper.

Hoërskool Kroonstad 23 – Drieë: Marnus Odendaal, Joe Jardim. Doelskoppe: Reinhard Kleynhans (2). Strafdoele: Kleynhans (3). Brandfort 0.

Bothaville 28 (16) – Drieë: Armand Grobler (2), Derek Beeslaar, Drikus Klopper. Doelskop: WJ Crous. Strafdoele: Crous (2). HTS Welkom 5 (0).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.