SuperSport Schools Plus

Robbies wen riller in Malmesbury

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-05 Tags: ,

FOTO: Hoërskool Robertson

Hoërskool Robertson kon Saterdag na ‘n naelbytstryd teen Swartland met ‘n enkele punt as oorwinnaars terugkeer huis toe.

Die Robbies, wat teen rustyd met 7-13 agter was, het uiteindelik met 24-23, en drie drieë teen twee, geseëvier.

Dit was van die eerste afskop af duidelik dat dit ‘n klipharde stryd sou afgee. Die Robbies het die toon aangegee met die eerste drie van die dag, maar dit was ook die enigste punte wat hulle in die eerste helfte kon aanteken.

Die tuisspan het teruggeslaan deur hul breker-flank, Reinhardt Adonis, maar dit was die geoefende skopskoen van Carlo van der Merwe wat vir Robertson die meeste probleme veroorsaak het en sy span met ses punte laat voorloop het met die omdraaislag. Die Robbies is egter ‘n woelige klomp en het kort na halftyd weer beheer oorgeneem.

Die wedstryd was nietemin steeds op ‘n mespunt gebalanseer toe Malmesbury se haker, Kallie Boutsikaris, die laaste drie gedruk het om Swartland binne twee punte van ‘n oorwinning te bring. Die doelskop het egter misluk en die Robbies kon vasklou om ‘n swaarverdiende sege tot hul rekord te voeg.

Hul SA o. 17 sewes-ster, Bernardo Diedericks, wat die naweek op heelagter begin het, het saam met Tyron Matthys en Kyle Cedras bresse geslaan in die tuisspan se verdediging, terwyl hul losskakel, Jayden van Niekerk, se akkuraatheid vanaf die skopkegel die oorwinning beklink het.

Die Robbies se volgende groot uitdaging volg eerskomende Saterdag wanneer Worcester Gimnasium by hulle besoek aflê. Albei spanne lewer vanjaar aantreklike rugby en daardie wedstyd behoort nogmaals ‘n skouspel af te gee.

Die Bosvarke van Worcester Gimnasium het die afgelope naweek weer hard gewerk om met Hoërskool Bellville (19-12) af te reken.

Puntemakers:

Hoërskool Robertson 24 (7) – Drieë: Bernardo Diedericks, Tyron Matthys, Kyle Cedras. Doelskoppe: Jaydan van Niekerk (3). Strafdoel: Van Niekerk. Swartland 23 (13) – Drieë: Reinhardt Adonis, Kallie Boutsikaris. Doelskoppe: Carlo van der Merwe (2). Strafdoele: Van der Merwe (3).

Hopefield 30 – Drieë: Ando Goosen, Joshua Viljoen, Jayden Engelbrecht, Altus van der Westhuizen. Doelskoppe: Bronwin Williams (2), Strafdoele: Williams (2). Augsburg Landbou 10.

Porterville 47 – Drieë: Llewellyn Fransman (2), Keanu Plaatjies, Howard Ocks, Joshua Steenkamp, Tyron Mbula, Brenden September. Doelskoppe: McAlister Boer (6). Hoërskool Vredendal 6.

Ander tellings:

o. 19 – Worcester Gimnasium 1ste XV 19, Hoërskool Bellville 1ste XV 12; Bosmandam 1ste XV 34, Rusthoff 1ste XV 3; Swartland II 25, Robertson II 12; Wesbank 1ste XV 29, Swartland III 3; Wesbank II 12, Swartland IV 5; Bosmandam II 17, Rusthoff II 0.

o. 16 – Swartland A 25, Robertson A 24; Swartland B 5, Wesbank B 5; Bosmandam A 8, Rusthoff A 0; Porterville A 31, Hoërskool Vredendal A 5.

o. 15 – Swartland A 13, Robertson A 10; Swartland B 31, Robertson B 3; Bosmandam A 31, Rusthoff A 5; Porterville A 28, Hoërskool Vredendal 6.

o. 14 – Swartland A 26, Robertson A 0; Swartland B 24, Vooruitsig o. 15 A 22; Swartland C 12, Voortuitsig A 12; Rusthoff A 38, Bosmandam A 24.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.