Rhinos se Duncan druk twee keer in naelbytsege oor Jansies

Hoërskool Nelspruit se John Duncan was die hoofargitek van die Laevelders se suksesverhaal Saterdagmiddag in Boksburg.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Rhinos se losskakel het twee keer agter Hoërskool Dr EG Jansen se doellyn gaan kuier in sy span se naelbytsege van 24-22, waarmee hulle hul rekening in vanjaar se NWU Sportreeks geopen het.
Die Jansies was blitsig uit die blokke en het giftig voorgekom in die eerste helfte, om teen rustyd met 19-14 voor te loop. Hul bereidwilligheid om die bal so vinnig moontlik te versprei na snellers soos regtervleuel, Jayden du Preez, en heelagter, Zulu Otlotleng, het duidelik dividende gelewer, maar Duncan het ander planne gehad.
Benewens sy uitmuntende vertoning op die aanval, was hy ook rotsvas op verdediging en het hy ál drie sy span se drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag, wat uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken het.
Die Rhinos se oopkantflank, Prosper Chillione, het ook hand opgesteek, deur te woel in die los en hy was oral op die veld te sien. Chillione het ook nie teruggedeins vir die fisieke stryd wat vir die volle 70 minute onder die groot manne voorlangs gewoed het nie.
Die kragmeting tussen Hoërskool Eldoraigne en Hoërskool Piet Retief het ‘n ware drieëfees opgelewer, met die Drake wat uiteindelik die laaste sê gehad het met ‘n oorwinning van 40-34. Die dag het behoort aan Eldos se buitesenter, Hanno Jacobs, wat nie minder nie as vier keer agter die doellyn gaan draai het nie. Jacobs was boonop ‘n tier op die verdediging en het ‘n groot aandeel daarin gehad om die besoekers se giftige agterlyn aan bande te lê.
Die Pieties se linkervleuel, Vuyani Tshabalala, het nietemin steeds sy pad deur die Drake se verdediging oopgekloof om self drie keer oor te duik vir ‘n indrukwekkende driekuns. Dus is sewe van die 11 drieë in die eerstespan-wedstryd deur slegs twee spelers gedruk.
Manie Buitendag, die tuisspan se heelagter, was op die einde van die dag met sy stewel die deurslaggewende faktor. Buitendag se vyf doelskoppe het aan die Eldos genoeg asemhalingspasie gebied om die besoekers se hewige aanslag in die laaste 20 minute, waartydens hulle 12 punte aangeteken, af te weer, en ‘n eerste oorwinning vanjaar te verseker.
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 24 (14) – Drieë: John Duncan (2), Tinyiko Silubane. Doelskoppe: Duncan (3). Strafdoel: Duncan. EG Jansen 22 (19) – Drieë: Zulu Oltlatleng, Jayden du Preez, Marco Ventura. Doelskoppe: Deshean Pietersen (2). Strafdoel: Zian Ueckermann.
Eldoraigne 40 (26) – Drieë: Hanno Jacobs (4), Darren Bruwer, MC Scheepers. Doelskoppe: Manie Buitendag (5). Hoërskool Piet Retief 34 (22) – Drieë: Vuyani Tshabalala (3), Sfundo Mayisa, Sfiso Methula. Doelskoppe: Olwethu Shabalala (3). Stradoel: Shabalala.
Ander spanne:
o.16: EG Jansen 22, Hoërskool Nelspruit 20; Hoërskool Piet Retief 12, Eldoraigne 5.
o.15: EG Jansen 22, Hoërskool Nelspruit 22; Eldoraigne 19, Hoërskool Piet Retief 12.
o.14: EG Jansen 29, Hoërskool Nelspruit 7; Hoërskool Piet Retief 43, Eldoraigne 0.





