SuperSport Schools Plus

Rekord reën op Cravenweek in Stellenbosch

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-19

 

NewsG LeoKrugerRekords word opgestel om oortref te word . . . maar die rekord wat die Westelike Provinsie gister in Stellenbosch in die hoofwedstryd van die 52ste Cravenweek daargestel het, sal nie sommer góú weer spat nie.

Die Streeptruie het die grootste sege in die geskiedenis van hoofwedstryde in die Markotter-stadion behaal deur die Oostelike Provinsie met 95-0 af te ransel.

Die span het ook daarin geslaag om daarmee die spook van sy laaste drie hoofwedstryde op Cravenweke in Stellenbosch te ruste te lê.

Die vorige rekord is op die einste veld in 2007 opgestel, toe die Vrystaat die Streeptruie met 52-3 verniel het. Dit was ook die eerste keer sedert 1973 se Cravenweek dat die Westelike Provinsie in Stellenbosch as nie-amptelike kampioen gekroon is. Destyds was Schalk Burger sr., Rob Louw en Peter Kirsten in die Streeptruie se span.

Die WP was in 2013 laas die nie-amptelike kampioen, terwyl die OP verlede jaar met die kroon weggestap het.
Die tuisspan was gister indrukwekkend en daar is nie ’n span in vanjaar se toernooi wat in dié luim met hom sou kon saamgesels nie.

Die binnesenter, Cornel Smit, was uitstekend. Hy het van die afskop af gebreek en die vleuel Nico Leonard het na net 20 sekondes se spel sy span se eerste drie gaan afrond.

Smit se sentermaat, Manual Ras, was ook uitmuntend, terwyl die plaasvervanger-vleuel, Tyreeq February, ook te veel vrae aan die OP se verdediging gerig het. Ras het drie drieë gaan druk en sy span het altesaam 14 drieë in die slagting gedruk.

Voorlangs het die kaptein en flank, Ernst van Rhyn, en die twee slotte, Salmaan Moerat en Ruben de Villiers, harde werk verrig.

Een van die hoogtepunte van die kragmeting was toe die plaasvervanger-vaskopstut, Leo Kruger, eers deur ’n gaping op die halflyn geglip het en daarna ook Curwin Bosch met ’n pypkan en fopaangee geklop voordat hy onder die pale oorgeduik het.

Die Streeptruie se skrumskakel, Jondré Williams, het net een stelskop pale toe verbrou. Hy het met sewe doelskoppe en een strafskop geslaag en ook agter die doellyn gaan kuier vir ’n persoonlike bydrae van 22 punte.

Die Suidwestelike Distrikte het in die vernaamste voorwedstryd KwaZulu-Natal met 24-19 met die kous oor die kop huis toe gestuur. Die Volstruisboere se buitesenter, Manie Libbok, was in die modder steeds op sy stukke. Hy het die toernooi met 43 punte as die voorste puntemaker afgesluit.

Puntemakers:

Westelike Provinsie 95 (43): Drieë: Manual Ras (3), Tyreeq February (2), Nico Leonard (2), Ruben de Villiers (2), Damian Willemse, Leo Kruger, Khanya Ncusane, Ryan Muller, Jondré Williams. Doelskoppe: Williams (7), George Lourens (4). Strafdoel: Williams. Oostelike Provinsie 0.

Suidwestelike Distrikte 24 (7): Drieë: JP Duvenhage, Manie Libbok, Darylle Kameel, Bertie de Bod. Doelskoppe: Libbok (2). KwaZulu-Natal 19 (5): Drieë: Werner-Bader Pretorius (2), James Tedder. Doelskoppe: Pretorius, Tedder.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.