SuperSport Schools News

Pumas stel SA Skole-breier aan

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-11-26

NewsG HeinKriekDie Pumas-rugbyunie het ’n groot slag geslaan deur Hein Kriek, die Suid-Afrikaanse Skolespan se afrigter, na Mbombela (Nelspruit) te lok.

Kriek is as MJ Mentz se adjudant aangestel.

Kriek kan met sy kennis van ­skolespelers die unie help om die regte talent te lok. Hy was die ­afgelope drie jaar aan stuur van die SA Skole-span asook Paul Roos-Gimnasium van ­Stellenbosch se eerste span.

Vir Kriek is die aanstelling die volgende stap in sy loopbaan as ­afrigter.

“Ek dink elke afrigter wil op ’n ­hoër vlak afrig en dié was die ­volgende stap om te neem,” het Kriek gesê.

Kriek (38) het die destydse­ Suidoos-Transvaal op die Cravenweek van 1995 in Bloemfontein verteenwoordig. Hy het aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer en het in Malelane grootgeword.

“Dit is ’n goeie geleentheid om ­terug te keer na die plek waar ek lief vir rugby geword het. Die ­keuse om by die Pumas aan te sluit, was ’n maklike een. Ek hou van die ­manier waarop die Pumas speel asook die waardes wat die span ­uitleef,” het Kriek gesê.

Kriek het die Kaapse klub ­Hamilton tot nasionale klubkampioen in 2009 gebrei. Dit was die eerste keer in agt jaar dat ’n oop klub weer as nasionale kampioen gekroon is.

Onder Kriek se leiding het Paul Roos vanjaar die ­Sanix-toernooi in Japan gewen.

Paul Roos het Brisbane Boys College van Australië in die eindstryd oortuigend met 35-3 verslaan.

Paul Roos het vanjaar sy 150ste bestaansjaar gevier en die eerste span het slegs drie keer verloor. Al drie nederlae was teen spanne van die Paarl – Boland Landbou (17-24), ­­Hoër Jongenskool Paarl (10-29) en Paarl Gimnasium (21-23).

Paul Roos sal later ’n aankondiging doen oor wie Kriek sal opvolg. Paarl Gimnasium (Pieter Rossouw/Bulle) en die Hoërskool Outeniqua (Abré Minnie/Griekwas) het reeds afrigters met provinsiale ervaring vir volgende jaar aangestel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.