SuperSport Schools Plus

Provinsiale sewes (o.18) se loting bekend

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-09-14

Die verdedigende kampioen van die provinsiale sewes-rugbytoernooi, die Valke sal aanslae van Boland, KwaZulu-Natal en Grens in sy groepwedstryde moet oorkom om vanjaar tot die uitkloprondes deur te dring.

Die toernooi word vanjaar vir die vierde keer aangebied met die Hoërskool Monument wat volgende maand die gasheer sal wees.

Die Valke het verlede jaar ondanks ’n nederlaag teen die Blou Bulle (17-5) en ’n gelykop-uitslag teen die Luiperds (12-elk) in sy groepwedstryde tot die uitkloprondes deurgedring.

Groep D is egter die taaiste groep met die Blou Bulle, Leeus, Pumas en Griffons wat teen mekaar sake sal uitspook. Die Ligbloues het in 2011 die eerste houer van die titel as nasionale sewes-kampioen geword, terwyl die Leeus as gasheer een van die sterker spanne op die toernooi behoort te wees.

Die Pumas behoort ook ’n gedugte span in die veld te stoot met HTS Middelburg wat Hoërskool Pionier se toernooi vroeër vanjaar gewen het en ook op Mpumalanga se kampioenskap met die louere weggestap het. Die Griffons het altyd ’n gedugte sewes eenheid en kan ook nie sonder handskoene aangepak word nie.

Die Vrystaat was in 2012 die kampioen en sal sy bure Griekwas, Westelike Provinsie en Limpopo in Groep C pak. Die Vrystaters behoort ook een van die vroeë gunstelinge te wees om vanjaar met die kroon weg te stap.

Suidwestelike Distrikte, Oostelike Provinsie, die Luiperds en Namibië is in Groep C geloot. Die span van die Baai het vanjaar op die 51ste Cravenweek vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) met die titel as nie-amptelike kampioen weggestap.

Die Biltongboere kom in die toernooi in die plek van Zimbabwe wat onttrek het.

Dit behoort interresant te wees om te sien hoe die doodloop van die @lantic-sewesreeks die gehalte van die spel op die provinsiale toernooi gaan beinvloed.

) Die groepe is:

Groep A: Valke, Boland, KwaZulu-Natal, Grens.

Groep B: Suidwestelike Distrikte, Oostelike Provinsie, Luiperds, Namibië.

Groep C: Westelike Provinsie, Vrystaat, Limpopo, Griekwas.

Groep D: Blou Bulle, Pumas, Leeus, Griffons.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.