Protea Karla Pretorius, nuwe netbalhoof van Fichies, wil terugploeg
Die Protea netbalster Karla Pretorius is onlangs as die nuwe hoof van netbal by Hoërskool Fichardtpark aangestel.
Met ‘n roemryke loopbaan en ‘n rekord van uitsonderlike prestasies, bring Pretorius ‘n magdom ervaring en kundigheid na die rol.
Danksy haar verdedigingsvernuf, word Pretorius alom bestempel as een van die wêreld se voorste doelspelers.
Pretorius se prestasies in die netbalwêreld is inderdaad indrukwekkend, en sy is in 2019 as die waardevolste speler by die Wêreldbeker aangewys.
Haar netbalreis strek oor verskeie bekende spanne heen, soos Kovsies (2009-2015); Team Bath, Engeland (2011-2016); en Sunshine Coast Lightning in Australië (2016-2023).
Op internasionale vlak het sy sedert 2011 haar impak laat geld vir die Proteas.
Pretorius spog ook met ‘n reeks toekennings, insluitende die Varsitybeker-reeks se Speler van die Jaar (2014, 2015), die Universiteit van die Vrystaat se Sportvrou van die Jaar (2015, 2016) en die Australiese Superliga-MVP (2017) .
Sy was ook erken in die Mail & Guardian se lys van Top-200 Jong Suid-Afrikaners (2017).
Mnr. Herman van der Merwe, hoof van Fichardtpark, praat met groot entoesiasme oor Pretorius se aanstelling. Hy het haar uitgebreide ervaring in afrigtingsmetodologieë en kondisionering uitgelig, en beklemtoon dat haar invloed ver buite die grense van die netbalbaan strek.
“Min netbalspelers spog met soveel ondervinding van die nuutste afrigtingsmetodes en kondisionering. In die tyd wat sy met jongmense deurgebring het, het sy ‘n ongelooflike impak op hulle menswees gehad. Afrigting gaan juis oor heelwat meer as bloot afrigting; die impak op jongmense se lewens, as ‘n mentor, is ook van kardinale belang.”
Pretorius se visie vir Fichies-netbal behels meer as slegs die afrigting van die eerstespan. Sy streef daarna om ‘n netbalkultuur en speelstyl oor al die spanne heen te vestig en ‘n mededingende omgewing te bevorder.
Volgens Pretorius, sien sy geweldig uit na hierdie nuwe fase in haar loopbaan, en vernaam om terug te ploeg met haar kennis en ervaring. Sy wil graag ook haar kennis by die laerskole inploeg.
Met Pretorius aan die stuur, is Fichies-netbal op die drumpel van ‘n merkwaardige reis van groei en prestasie.