Politici is nie nodig vir transformasie
Gerugte doen die ronde dat ’n riglyn deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) beplan word vir volgende jaar se nasionale skoleweke.
Dié riglyn sal glo bepaal hoeveel etniese swart spelers elke span onderskeidelik na die Cravenweek vir laerskole (o.13), Grant Khomo-week (o.16), Akademieweek (o.18) en Cravenweek vir hoërskole (o.18) sal moet neem.
Tans het spanne slegs teikens wat bereik moet word wat spelers van kleur betref vir die onderskeie weke.
Die meeste spelers van kleur wat op die weke speel, sou egter sonder dié teikens op meriete ook in die onderskeie provinsies se spanne gewees het.
Ek was verlede week by ’n toernooi in Reitz wat nie ’n amptelike Saru-toernooi was nie.
En nee, dit was nie die Bokkieweek nie. Dit was die jaarlikse VKB-week wat in die Oos-Vrystaat aangebied word.
Die Riemland is in elk geval die plek waar Springbokke gemaak word.
Dink maar aan Dok Craven, Tom van Vollenhoven, Ruben Kruger, Bismarck en Jannie du Plessis, Frans Steyn, Naka Drotské asook Toks van der Linde om net die name van ’n paar grotes van dié streek te noem.
Die VKB-week het geen kwotas of teikens nie. By dié week word daar nie onderskeid tussen rugbyspelers oor enige rede anders as hul talente gemaak nie.
Die span wat as kampioen gekroon is, Noord-Natal, het nege etniese swart spelers in sy geledere gehad. Almal was op meriete in die span.
Suid-Natal het 11 etniese swart spelers met nog ’n verdere twee spelers van kleur in sy span gehad.
Van die etniese swart spelers wat vir Noord-Natal gespeel het, kon dit nie bekostig om die toernooi by te woon nie.
Daar is vooraf borge deur die bestuurspan gekry om te verseker dat die spelers die toernooi kon bywoon.
Daar was egter steeds sowat R24 000 uitstaande toe die span die Valke in die eindstryd met 17-3 geklop het.
Die bestuurspan sal nou die uitstaande geld deur middel van donasies moet probeer insamel.
’n Mens sou dink al die mense wat so graag kwotas wil instel, het al ’n fonds gestig is om dié spelers van kleur wat die vermoë het om dalk eendag die Groen-en-Goud oor die kop te trek, finansieel te ondersteun.
Dié spelers moet ondersteun en nie net gebruik word om eie agendas te dryf nie.
Daar moet na die spelers se welstand omgesien word en hulle moet toegerus word om eendag die stap boontoe te neem wanneer dit van hulle verwag word.
Daar moet nie eens ’n kwessie oor geld vir sulke spelers se deelname aan toernooie wees nie.
Op die oomblik kom dit op hul afrigters op skolevlak neer om borge te gaan soek om toe te sien dat dié spelers geleenthede kan benut.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16