Pietersburg kan voortou in Skild-afdeling neem, Liggies het moeilike stryd wat wag in Tzaneen


Na die eerste twee rondes van die Skild-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup is die liga soos verwag nog wawyd oop.
Verlede jaar se naaswenner, Hoërskool Pietersburg, sal na Heidelberg reis om teen Heidelberg Volkskool daar kragte te meet. Die Pieties het verlede jaar in die eindstryd teen Montana van Pretoria met 28-32 vasgeval.
Die besoekers sal as die gunsteling op die veld draf, maar Volkies is nooit ‘n span wat die stryd net gewonne op sy tuisveld gee nie. Die Pieties het vir Marais Viljoen van Alberton verlede week met 31-22 getroef.
Die span se woelige haker, Ziahn Lombaard, het sy goeie spelpeil voortgesit en twee keer agter die doellyn gaan kuier. Die Volkies se Henru Coetzer het die moeilike taak om vir Lombaard in toom te hou.
Die besoekers se vaskopstut en kaptein, Stephan Jansen van Rensburg, is ook ‘n moeilike kalant om voorlangs dop te hou. Hulle heelagter, Ryno Mienie, kan ook ‘n doring in die tuisspan se vlees wees.
Marais Viljoen sal op sy tuisveld in Alberton probeer om Secunda om te dop.
Die besoekers het verlede week ‘n goeie sege van 32-20 oor Eldoraigne behaal. Die span van Alberton sal dus ná Saterdag se uitslag weet of hul seisoen op koers is.
Die tuisspan se agtsteman, Joshua O’Brien, is tot dusver gesamentlik met twee drieë die voorste driedrukker in dié afdeling. O’Brien sal met sy kraglopies sy span op die voorvoet teen Secunda moet hou.
Die tweestryd in die skrums tussen Secunda se kaptein en vaskopstut, Nathan Erasmus, en die tuisspan se Caden Sheasby behoort ook vir heelwat vuurwerk te sorg.
Lichtenburg pak hierde week die ongeveer 1,200 kilometer heen en weer na Tzaneen aan.
As hierdie taak nie uitdagend genoeg is nie, wag die Buffels van Ben Vorster hom Saterdag om 12:35 ook nog in.
Dit sal die Liggies se eerste wedstryd in vanjaar se Skild-afdeling wees. Hy het verlede week teen die Hoërskool Klerksdorp in ‘n FNB Classic Clash met 23-38 die knie gebuig.
Die Vossies het daarenteen ‘n goeie sege van 21-19 oor Ligbron Akademie behaal. Die tuisspan se gevaarman is die ervare, Ruben Pohl op haker. Hy het reeds verlede jaar die Limpopo Blou Bulle op die Cravenweek in Middelburg verteenwoordig.
Die linkervleuel, Tumi Ramohlale, is ook ‘n speler wat met sy vaart die Liggies probleme kan besorg.
Die spanne is:
Heidelberg Volkskool t. Hoërskool Pietersburg om 12:30 in Heidelberg:
Heidelberg Volkskool: 15 Tyrone Munro, 14 Steph Loubser, 13 JR Liebenberg, 12 Vaughn Steynvaart, 11 Jerado Tafel, 10 Tristan Munro, 9 Hein Oelofse, 8 Juandre Pretorius, 7 Klaas Venter, 6 Jaco Botha (kaptein), 5 Albie Botha, 4 Jano Dietrechsen, 3 Darius Minie, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.
Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Juan Dreyer, 12 Hanru Marais, 11 Basson Wolmarans, 10 Juan Randell, 9 Curtis Cloete, 8 Liam van der Bank, 7 Ignus Ferreira, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg (kaptein), 2 Ziahn Lombaard, 1 Dewan Windell.
Marais Viljoen t. Secunda om 12:30 in Alberton:
Marais Viljoen: 15 Kabelo Tlhoaele, 14 Eldrique Adams, 13 Blake Worthington, 12 Dante Crous, 11 Nqoba Mathe, 10 Ovayo Jonas, 9 Peter Chihobo, 8 Joshua O’Brien, 7 Thato Mapuru, 6 Tshepo Tsholo, 5 Ukona Mahlehlo, 4 Dean Scheepers, 3 Markus Jacobs, 2 Frikkie Horn, 1 Caden Sheasby.
Secunda: 15 Liam Olivier, 14 Emilama Nose, 13 Andries Nel, 12 Herco Radley, 11 Jayden Scholtz, 10 Tristan Crouch, 9 Kwezi Mafanya, 8 JC Olivier, 7 Joshua Jansen, 6 Bernich Schmidt, 5 Adriaan Nortje, 4 Mickey Jordaan, 3 Nathan Erasmus (kaptein), 2 Xavier Scheepers, 1 Kyle Viljoen.
Ben Vorster t. Lichtenburg om 12:35 in Tzaneen:
Ben Vorster: 15 Wessel Joubert, 14 Ronnel Komana, 13 Zane Trollip, 12 Edwin Matola, 11 Tumi Ramohlale, 10 Lolos Letlabola, 9 Josua van Eeden, 8 Joshua van der Mescht, 7 Ryan Gerhardt, 6 Kobus de Beer, 5 Wilhelm Brummer, 4 Dejuan du Plessis, 3 Jean-Jacques Crewe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.
Lichtenburg: 15 Karabelo Kgamanyana, 14 Vusi George, 13 WJ Liebenberg, 12 Thatu Seabo, 11 Andries Pretorius, 10 Hanjo Nieuwoudt, 9 Rea Motsusi, 8 Jaco Lotter, 7 Phillip Jacobs, 6 David Passetti, 5 George Bingudza, 4 Miguel Goncalves, 3 Tommy Drinkwater, 2 Johan Deyzel, 1 Ruben Pretorius.
- Middelburg wil voortbou op spelpeil teen Rusties, Garsies sonder Blom sal lugtig vir Blues wees - 2026-05-15
- Parkies sal wendroogte teen Waterkloof wil verbreek, Lourens-tweeling sal vuurwarm vir Helpies teen EG moet wees - 2026-05-15
- In-form Affies looking to topple Grey College for the first time in over a decade - 2026-05-15





