Pelser, Parkies bespreek nóg ‘n eindstryd teen Klofies

Die Hoërskool Menlopark se haker, Declan Pelser, het twee keer oor die doellyn gebars om vir sy span ‘n tweede agtereenvolgende jaar ‘n plek in die eindstryd van die NWU Sportreeks teen Hoërskool Waterkloof te bespreek.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (ww.supersportschools.com)
Pelser se tweekuns het die Pretorianers tot ‘n puik oorwinning van 29-17 oor ‘n sterk Hoërskool Transvalia aangevuur.
Die Parkies se dryfmaalbeweging was oudergewoonte een van hul vernaamste wapens en het die grondslag vir die sege reeds in die eerste helfte gelê. Buiten Pelser was loskopstut, Mattheus Prinsloo, ook ‘n doring in die stryd tussen die voorspelers.
Agterlangs het losskakel en kaptein, Andru Keun, met sy voorbeeld gelei. Hy was hy oudergewoonte koel en kalm onder druk, en het met fyn voorgevoel Parkies se agterlyn op die voorvoet gehou.
Valia se pak het nietemin in die tweede helfte meer ritme begin vind en vir die Parkies ‘n paar keer van hul eie medisyne gegee met ‘n paar kragtige dryfmale, wat twee drieë meegebring het. Flank en kaptein, Juan Bisschof, en sy flankmaat, Daniel Kazambo, het vuurgemaak onder die tuisspan se pak, maar die rustydagterstand van 14 punte was uiteindelik net té veel.
Hoewel die telling dit nie weergee nie, het Hoërskool Eldoraigne vir Hoërskool Middelburg laat sweet vir sy sege van 45-24. Teen halftyd was daar nog niks te kies tussen die twee spanne nie en, met die telling 24-24, het ‘n reuse opskudding moontlik gelyk. Die Middies het in die tweede skof egter gewys waarom hulle vanjaar ‘n groot bedreiging in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling inhou.
Haker, Roux Grobler, klop hard aan vanjaar se Cravenweek-deur, is ‘n yster in die vastelos en het in elke wedstryd tot dusver vanjaar ten minste een keer agter die doellyn gaan kuier.
Hoërskool Kempton Park het sy stem dik gemaak met ‘n oorwinning van 23-10 oor Hoërskool Piet Retief, tuis in Kempton Park. Regtervleuel, Guilaume Botha, het die kollig gesteel met sy vaart en vermoë om af te rond wanneer hy spasie gebied word, terwyl steelkantflank, Marko van der Walt, deurgaans daarin geslaag het om sy span oor die voordeellyn te kry.
Puntemakers:
Menlopark 29 (14) – Drieë: Declan Pelser (2), Mattheus Prinsloo, Lucian Read. Doelskoppe: Anru Keun (3). Strafdoel: Keun. Transvalia 17 (0) – Drieë: Juan Bisschof, Kyle Maartens, Daniel Kazambo. Doelskop: Jayden van Eden.
Hoërskool Middelburg 45 (24) – Drieë: Roux Grobler, Siya Matgoajana, Jaco Truter, Dewald du Toit, Choek Jansen van Rensburg, Zanempilo Mahlangu. Doelskoppe: Matthew Abbey (6). Strafdoel: Abbey. Eldoraigne 24 (24) – Drieë: Tristan Lee, Justin Meintjies, Chase Wessels, Hanno Jacobs. Doelskoppe: Damian Elferink (2).
Hoërskool Kempton Park 23 (10) – Drieë: Juan Olivier, Guillaume Botha, Ettiene Stroebel, Ethan Botha. Strafdoel: Stian de Villiers. Hoërskool Piet Retief 10 (3) – Drieë: Sfundo Mayisa. Doelskop: Gilles van der Meulen. Strafdoel: Van der Meulen.
Ander spanne:
o.16: Menlopark 20, Transvalia 13; Hoërskool Middelburg 22, Hoërskool Piet Retief 7;
o.15: Menlopark 16, Transvalia 13; Hoërskool Piet Retief 12, Hoërskool Kempton Park 12;
o.14: Hoërskool Middelburg 10, Menlopark 3; Hoërskool Kempton Park 12, Hoërskool Piet Retief 7;