Paul Roos net-net bo
Paul Roos Gimnasium behoort dié seisoen as die beste Wes-Kaapse skolerugbyspan af te sluit.
Dié span het net-net die ander aanspraakmaker om die Wes-Kaapse topspan te wees, die Hoër Jongenskool Paarl, met 17-13 geklop. Die span van die Eikestad se heelagter Aidynn Cupido het, toe speeltyd reeds verstreke was, ná ’n breekslag deur die skrumskakel Herschell Jantjies onder die pale gaan druk om aan sy span die sege te besorg.
Voor Cupido se drie het dit gelyk of die span van die Paarl, met die telling op 13-10 in sy guns, as die oorwinnaar van die veld af sou stap.
Die kragmeting aan die einde van die seisoen tussen Grey-kollege en Paul Roos in Bloemfontein beloof om ’n riller te wees. Dié wedstryd sal heel moontlik bepaal wie vanjaar die kroon as beste rugbyspan op skolevlak sal dra. Daar word in die Rosestad verwag dat meer as 18 000 toeskouers die wedstryd sal bywoon.
EG Jansen het op sy tuisveld in Boksburg nie veel probleme ondervind om die Hoërskool Rustenburg met 57-15 te troef nie. Die manne van Rustenburg verdien egter lof dat hulle nooit die stryd gewonne gegee het nie. Die verloorspan se flank Brenden Esterhuyse en sy halfbroer die senter Danick Pheiffer het veral met hul spel beïndruk.
Vir EG Jansen was sy heelagter Martin van Wyk op ’n veel hoër vlak as enige ander speler op die veld. Van Wyk het drie keer gaan druk en ook die aanvoorwerk vir twee van die vleuel Juan Botha se vier drieë gedoen. Van Wyk se derde drie was die 100ste vir sy skool sedert sy o.14-jaar.
Monument gaan nie sommer vanjaar in die Leeus-streek om die Beeldtrofee geklop word nie. Dié span het sy oorheersing in die liga met ’n oortuigende sege van 77-26 oor Marais Viljoen bevestig.
Monnas het 13 drieë in die wedstryd ingeryg, waarvan die vleuel Armandt Grobler en Gavin Delport elk ’n driekuns behaal het. Grobler het in sy span se ander ligawedstryd teen Florida ook ’n driekuns aan drieë behaal.
Garsfontein is die eerste keer in die geskiedenis as die Blou Bulle se provinsiale Makro-skole kampioen gekroon. Garsies het Centurion met 64-28 uit die pad gevee om die liga onoorwonne af te sluit.
Die span het net nie teen Affies gespeel nie. Affies het hom aan dié twee spanne se kragmeting onttrek.
Affies het Eldoraigne met 44-18 getroef. Die wenspan het mooi kop gehou nadat Eldoraigne sake vroeg in die wedstryd beheer het. Affies se vaskopstut DP du Plessis het drie keer agter Eldoraigne se doellyn gaan kuier.
Die Rhinos van die Hoërskool Nelspruit het hul plek in Mpumalanga se eindstryd van die Makro-skole bespreek deur die bordjies met 27-12 teen die Hoërskool Middelburg te verhang. Middelburg het verlede week die Rhinos met 11-10 te verslaan.
Nelspruit se losskakel Wessel Muller het 17 van sy span se punte via ’n drie, drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken. Nelspruit kom nou in die eindstryd teen HTS Middelburg te staan.
Paarl Gimnasium het ietwat gesweet om HTS Drostdy met 13-10 onder te kry. Bishops het ’n wegholsege van 94-7 oor die Hoërskool Bellville behaal, terwyl Oakdale-Landbou vir Tygerberg met 47-17 verslaan het.
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22