SuperSport Schools Plus

Paul Roos en Grey se opmars na Nr. 1 duur voort

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-05-20

NewsGHanruJacobs18 Augustus 2018 in Bloemfontein. Dit is waar en wanneer Suid-Afrika se voorste skolespan van 2018 gekroon sal word.

Dit is wanneer Grey-kollege en Paul Roos Gimnasium mekaar die stryd sal aansê. Hopelik neem die Suid-Afrikaanse Rugbyunie hiervan kennis en sal die SA Skole-span se program nie ‘n impak op die wedstryd hê nie.

Paul Roos het gister in die Markotter-stadion in Stellenbosch die Hoër Jongenskool Paarl met 44-8 verneder. Dit was die span van die Eikestad se eerste sege oor Boishaai sedert 2014.

Paul Roos se kaptein en haker, JJ Kotze, is ‘n klipharde speler wat ‘n sterk aanspraakmaker vir ‘n plek in die nasionale skolespan behoort te wees. Kotze was gister weer aan die voorpunt en sy agttal het teen Boishaai gewys dat hulle ‘n gedugte kombinasie is.

In Paul Roos se agterhoede het die binnesenter, Brenden Venter, met sy verspreiding die gate in die besoekers se verdediging vir sy spanmaats uitgewys.

Grey het sy onoorwonne status met ‘n sege van 39-28 oor ‘n moedige Affies behou. Die besoekers van die Rosestad het kort voor  rustyd ‘n voorsprong van 22-0 opgebou.

Grey se haker, André-Hugo Venter, is koelkas toe gestuur kort voor rustyd. Affies se voorryman Dewald Donald het kort daarna welverdiend oor die doellyn gebars vir sy span se eerste punte.

Toe Venter sy terugkeer tot die veld maak het Affies die gaping tot ‘n enkele punt op 22-21 laat krimp. Die tuisspan se agtsteman, Jan Dagutat, het in die 62ste minuut gaan druk om sy span met 28-27 te laat voorloop.

Grey het daarna na ‘n hoër rat oorgeskakel om die sege te beklink. Die span van die Rosestad se agtsteman, Werner Gouws, asook die vleuel Ian Small-Smith en heelagter, Richard Kriel, het uitstaande vertonings opgedis.

Grey se losskakel, Zander du Plessis, het ook ‘n goeie dag op kantoor beleef en in die eerste helfte met ‘n reuse-strafdoel van 60 meter geslaag.

Paarl Gimnasium was met 47-39 oor Oakdale Landbou in ‘n opwindende wipplankstryd net buite Riversdal baas. Gimmies se vleuel Stravino Jacobs het drie keer die doellyn oorgesteek.

Die wenspan se slot Henco Beukes was uitmuntend in die lynstane en het ook in die vastelos gewoel. Hy is goed deur die flank Dean Nieuwoudt ondersteun.

Jy kom haal nie sommer net ‘n sege op Trappespark in Worcester nie. Of dit die gees van Charles Trappes is, wat neffens die hoofpaviljoen begrawe lê wat na die belange van HTS Drostdy omsien en of dit net die geluksgodin is sal ‘n geheim bly.

Die Donkies het danksy ‘n drie in die doodsnikke deur sy losskakel, Shaun Baxter, ‘n sege van 25-18 oor Outeniqua behaal. Baxter het ‘n praglopie met speeltyd reeds vertreke onder die pale gaan afrond.

Die Kwaggas van Outeniqua het drie minute voor die einde amper ‘n sege beklink, maar kon net nie die doellyn oorsteek nie.

In Bethlehem het Voortrekker daarin geslaag om die bordjies teen Witteberg met 23-21 in die jaarlikse Classic Clash te verhang. Witteberg het verlede jaar ‘n droogte van tien jaar met ‘n oorwinning van 16-14 verbreek.

Welkom Gimnasium se vlekkelose rekord in die Griffon-liga het ook in die slag gebly. Gimmies wat gebuk onder beserings voortbeur het met 20-elk gelykop teen Hentie Cilliers van Virginia gespeel. Wilgerivier van Frankfort het ook ‘n geskiedkundige sege van 18-12 oor die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad behaal.

Eldoraigne se Groen Drake het vuur gespoeg in hul jaarlikse Classic Clash teen Zwartkop. Eldoraigne moes sonder sy ster-heelagter, Shayne Bolton, klaarkom, maar het steeds met 37-24 koning gekraai.

Eldos se buitesenter, Dominic Dalhouzi, was sy span se beste speler op die dag. Die vaskopstut, Barend Bezuidenhout, en losskakel, Jason Prinsloo, verdien elk ook ‘n klop op die skouer vir hulle vertonings.

Die skrumskakel, Hilton Olivier, het ‘n mooi drie gedruk na ‘n breekslag vanaf die halflyn, maar hy het amper 100 meter genael vir die drie soos sy dartellopie hom tussen Zwartkop se verdedigers sien vleg het.

In die Virsekerbeker het Transvalia met ‘n oortuigende sege van 73-24 oor HTS Middelburg gewys dat hy gewis ook in dié reeks ‘n sterk aanspraakmaker op die titel sal wees. Sy losskakel, Zian de Jager, het nege van sy span se elf drieë verdoel, waarvan hy die laaste danksy ‘n onderskep gaan afrond het.

Garsfontein het EG Jansen met 57-15 kaf gedraf met sy losskakel, Campo Willemse, en SA Skole-buitesenter, Diego Appollis, wat elk twee keer die doellyn oorgesteek het.

Menlopark is terug op die wenpad na hy die Hoërskool Nelspruit met 39-12 met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

Die verdedigende kampioen van die Virsekerbeker, Monument van Krugersdorp, sal hom voor sy eerste wedstryd in vanjaar se reeks moet regruk. Die span het na verlede week se gly teen Waterkloof ook gister teen Glenwood (22-49) slae gekry.

AL DIE UITSLAE: 

VIRSEKERBEKER

Afdeling 1 – Beker: Garsfontein 57, EG Jansen 15; Menlopark 39, Hoërskool Nelspruit 12; Transvalia 73, HTS Middelburg 24. Skild: Eldoraigne 37, Zwartkop 24; Kempton Park 24, Montana 18; Noordheuwel 25, Marais Viljoen 22. Plaat: Hoërskool Pietersburg 29, Florida 20; Lichtenburg 44, Jeugland 13; Hoërskool Middelburg 38, Hugenote (Springs) 17.

Afdeling 2 – Blou Bulle: HTS John Vorster 27, Wonderboom 26; Hoërskool Tuine 45, Midstream College 30; Overkruin 31, Die Wilgers 6. Goue Leeus: Bastion 37, Randburg 29; Linden 36, Dinamika 22. Limpopo: Ellisras 77, HTS Tom Naudé 5; Piet Potgieter 44, Merensky 17; Frikkie Meyer 59, Ben Viljoen 0. Luiperds: Potchefstroom Gimnasium 27, Hoërskool Klerksdorp 26; Potchefstroom Volkskool 37, Wesvalia 23. Pumas: Secunda 343, Piet Retief 12; Ermelo 41, Hoogenhout 17; Lydenburg 32, Standerton 21; Generaal Hertzog 31, HTS Witbank 29. Valke: Dr. Malan 43, Oosterlig 10; Heidelberg Volkskool 33, Die Anker 27; Driehoek 33, Vereeniging Gimnasium 14.

Afdeling 3 – Blou Bulle: Pretoria THS 33, HTS Tuine 31; Akasia 12, Gerrit Maritz 10; Erasmus 27, Curro Hazeldean 7; HF Verwoerd 41, FH Odendaal 5; Uitsig 12, Cullinan 5. Goue Leeus: Fochville 17, Riebeeckrand 5; Leeuwenhof 36, Bekker 0; Riebeeckrand 44, Trinityhouse 5; Queen’s High 50, Jan Viljoen 22; Bekker 22, Jan Viljoen 10; Leeuwenhof 20, Trinityhouse 14. Limpopo: Frans du Toit 32, Curro Heuwelkruin 29. Luiperds: Schoonspruit 15, Vryburg 10; Bergsig 26, Brits 12. Pumas:  Valke: Stoffberg 32, Delmas 7; Brandwag (Benoni) 57, Belvedere 10; Elspark 16, Springs Boys’ High 14; John Vorster (Nigel) 19, Delmas 10.

Afdeling 4 – Blou Bulle: Curro Roodeplaat 17, Lyttleton Manor 13; Maragon Mooikloof 75, Langenhoven 0; Hercules 48, Willowridge 15. Pumas: Morgenzon Landbou 33, Steelcrest 0; Komatipoort 40, Curro Bakenveld 28; Kriel 63, Evander 0.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Grey-kollege 39, Affies 28; Louis Botha 31, Sentraal 26; Diamantveld 57, Hoërskool Upington 24; Duineveld 42, Noord-Kaap 27; Goudveld-Hoërskool 40, Jim Fouché 10; Fichardtpark 34, Landboudal 13; Welkom Gimnasium 20, Hentie Cilliers 20; Voortrekker 23, Witteberg 21; Wilgerivier 18, AHS Kroonstad 12; Paul Erasmus 45, Ladybrand 0; Hoopstad 13, Bultfontein 13; Riebeeckstad 19, Bothaville 14; Brandfort 38, President Steyn 12; Ficksburg 15, Harrismith 5; St Andrews 69, Cornwall Hill College 0.

NOORDVAAL

Waterkloof 35, King Edward VII 23; Helpmekaar 36, Ben Vorster 21; St Alban’s College 32, Parktown Boys’ High 19; St John’s College 25, Pretoria Boys’ High 18; Jeppe 47, St Stithians College 31.

KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP

Glenwood 49, Monument 22; Durban High School 45, Maritzburg College 30; Nico Malan 33, Despatch 19; St Andrew’s College 19, Cambridge 10; Kingswood College 31, Port Rex 7; Dale College 41, Hoërskool Grens 19; Pionier 28, Sarel Cilliers 22; Hudson Park 37, Queen’s College 22.

WES-KAAP

Paul Roos Gimnasium 44, Hoër Jongenskool Paarl 8; Paarl Gimnasium 47, Oakdale Landbou 39; Boland Landbou 24, Bishops 14; Stellenberg 25, SACS 22; HTS Drostdy 25, Outeniqua 18; Rondebosch Boys’ High 30, Durbanville 15; Brackenfell 22, Milnerton 7; President 37, Table View 3; Langenhoven Gimnasium 27, Swartland 24.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.