SuperSport Schools Plus

Paul Roos eet Grey soos ‘n Miell(ie), Donkies skok Kwaggas op Trappes-park

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-21 Tags: , , ,

FOTO: Charmaine Sander

Paul Roos Gimnasium het met die Markotter-stadion in Stellenbosch as bondgenoot vir die eerste keer sedert 2015 daarin geslaag om vir Grey-kollege om te dop.

Die tuisspan was met 34-19 baas in ‘n kragmeting waarin hul deurgans op ‘n nat veld in beheer was. Dit was veral hul kaptein en flank, Herman Lourens, die slot Sampie Joubert en die loskopstut, Cameron Miell, wat vir Grey probleme besorg het.

Miell wat die skoene van Paul Roos se twee SA o.18-voorrymanne, Wilbur Loubser en Reno Hirst, moes volstaan het reeds na slegs 15 minute se spel soos ‘n wafferse flank drie keer omgekeerde besit by die afbreekpunte bewerkstellig.

Grey moes sonder ses SA o.18-spelers klaarkom, terwyl Paul Roos self drie spelers buite aksie weens hul betrokkenheid by die nasionale spanne gehad het.

HTS Drostdy het op sy tuisveld, Trappes-park, vir Outeniqua met 13-9 verras. Die Donkies se flank Matt Romao, skrumskakel Jurie du Toit asook die slot Lood Prins was uitstaande.

Framesby het ook vir ‘n verrassing in die Baai gesorg deur Oakdale Landbou met 11-7 te troef. Stellenberg moes op die ou einde hard werk om sy interskole-kragmeting teen die Hoërskool Durbanville met 29-20 te wen.

In Humansdorp het Nico Malan in gure weer wat winde van 50 kilometer per uur ingesluit het vir Graeme-kollege met 26-21 verslaan.

In die Noordvaaltrofee se eindstryd sal die Hoërskool Garsfontein se Bere ‘n kans kry om ‘n sakie teen die Hoërskool Monument van Krugersdorp reg te stel.

Die Bere was nog net een keer vanjaar aan die verloorkant en dit was teen die Wit Bulle in Krugersdorp. Monnas sal egter steeds as die gunsteling op die veld draf.

Monnas moes hard op sy tuisveld werk om vir EG Jansen van Boksburg met 29-20 in die halfeindronde te troef. Die span van Boksburg het teen rustyd ‘n voorsprong van 8-5 geniet wat hy na 20-5 vroeg in die tweede helfte gerek het.

Die Wit Bulle het daarna teruggeveg om uiteindelik as oorwinnaars van die veld te stap. Monnas se kaptein en agtsteman, Xander Schoeman, loskopstut, Evan Retief, asook die slot HJ de Beer het blink vertonings opgedis.

Garsies het op sy tuisveld, Bere-park, vir Noordheuwel met 43-10 kaf gedraf. Die Nories het in die eerste helfte met die wind van agter sake vir die Bere bemoeilik en die tuisspan kon slegs ‘n skrale voorsprong van 7-3 teen die omdraaislag geniet.

Dit was egter ‘n begeesterde span van Garsies wat in die tweede helfte die veld betree het. Dit was veral sy agtsteman, Maynard Kleynhans, asook die slot Luan Taylor wat voorlangs die span oor die voordeellyn gekry het.

Agterlangs het die regtervleuel, Heinrich Cloete, rede om te glimlag na hy twee keer die doellyn oorgesteek het.

Die Hoërskool Trio van Kroonstad se feëverhaal deur voort. Hy het Saterdag in die halfeindstryd van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga met 21-17 teenoor Diamantveld koning gekraai.

Diamonds het teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 17-0 opgebou. Trio het in die tweede helfte egter gesorg da thy net genoeg doen dat sy agtsteman, Ewald Tolmay, die wendrie met speeltyd reeds verstreke gaan druk het.

Trio kom volgende Saterdag in die eindstryd van die liga teen Jim Fouché van Bloemfontein te staan. JF het in die ander halfeindstryd vir die Hoërskool Upington met 38-17 uitgeskakel.

Die span van die Rosestad se vleuel Tristan van der Walt was op sy stukke en het ‘n driekuns aan drieë voltooi.

Midstream College het die spanne van Limpopo se partytjie finaal bederf deur Merensky van Tzaneen met 22-12 in die eindstryd van Afdeling 2 van die Noordvaaltrofee te klop.

Midstream was die enigste span van buite Limpopo in die halfeindronde van die afdeling.

In Afdeling 3 se eindstryd sou die Hoërskool Vryburg waarskynlik swaerder aan die gelykop-uitlag en die deel van die trofee met Die Wilgers gesluk het. Die pad terug na Vryburg is immers langer na so uitslag.

Die Hoërskool Middelburg se buitesenter, Grant de Jager, sal geen span in die steek laat nie. De Jager was met ‘n driekuns aan drieë aan die voorpunt van sy span se oorwinning van 52-0 oor die Hoërskool Rustenburg in die halfeindronde vn die Noordvaaltrofee se Plaat-kompetisie.

Die Middies kom in die eindstryd teen die Hoërskool Nelspruit te staan. Die Rhinos van Nelspruit het vir Kempton Park in die ander halfeindstryd met 38-17 afgestof.

Al die uitslae: 

NOORDVAAL

Beker-halfeindronde: Monument 29, EG Jansen 22; Garsfontein 43, Noordheuwel 10.

Plaat-halfeindronde: Hoërskool Middelburg 52, Hoërskool Rustenburg 0; Hoërskool Nelspruit 38, Kempton Park 17.

Skild-halfeindronde: Hoërskool Klerksdorp 30, Ligbron 5; Oos-Moot 41, Hugenote (Springs) 12.

Bowl-halfeindronde: Secunda 19, Hoërskool Pietersburg 7; Die Anker 34, Potchefstroom Volkskool 18.

Eindstryde

Afdeling 2: Midstream College 22, Merensky 12.

Afdeling 3: Die Wilgers 15, Vryburg 15.

Afdeling 4: Allen Glen 14, Carletonville 12.

Afdeling 5A Eindstryd: Morgenon Landbou 12, Magalies 12.

Afdeling 5B Eindstryd: Koster 20, Ferdinand Postma 9.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Hoërskool Trio 21, Diamantveld 17; Jim Fouché 38, Hoërskool Upington 17; Bothaville 50, Douglas 5; St. Andrews 38, Hartswater 31.

WES-KAAP/OOS-KAAP

Paul Roos Gimnasium 34, Grey-kollege 19; Framesby 11, Oakdale Landbou 7; HTS Drostdy 13, Outeniqua 9; SACS 15, Bishops 10; Rondebosch Boys’ High 17, Wynberg Boys’ High 10; Stellenberg 29, Durbanville 20; Monumentpark 22, Vredenburg 15; Robertson 34, Curro Durbanville 12; Hoërskool Bellville 26, Melkbosstrand 7; Tygerberg 33, Brackenfell 11; Parel Vallei 12, Strand 12; Nico Malan 26, Graeme College 21; Bosmansdam 29, Parow 10; Dirkie Uys 20, Jan van Riebeeck 12.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.