Parkies bevestig hulself as netbalkrag met Sportreeks-titel
Die laaste dag van die NWU Sportreeks het ‘n reeks spannende uitspeelwedstryde opgelewer tussen van die top netbalskole in die land, met Menlopark wat as kampioen gekroon is en weereens hulself bevestig het as ‘n netbalkrag in Suid-Afrika.
Parkies het in die eindstryd teen Oos-Moot hul kenmerkende styl van vinnige, presiese spel gehandhaaf om met 29–18 te seëvier. Hulle het van meet af vir die Oosies versmoor met kliniese afronding asook meedoënlose druk op die verdediging.
Transvalia en Nelspruit het om brons meegeding, met Transvalia wat met 24–16 die botoon gevoer het in ‘n kragmeting gevul met intensiteit en fyn afgeronde spel. Abigail Coetzee se rol as aanvallende vleuel (AV) was deurslaggewend, met verskeie kritieke onderskeppings wat tot doelpogings gelei en uiteindelik die momentum in Transvalia se guns laat swaai het.
Die halfeindstryd tussen Menlopark en Transvalia het vroeër die dag reeds die toon aangegee. Parkies het met 29–15 gewen deur vir Transvalia deurentyd aan bande te lê met hul kompakte verdediging en foutlose spel op die aanval.
In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek het Middelburg vir Ben Vorster met 16–9 getroef, nadat Middies vroeër die dag ook ‘n naelbytsege, in ekstra tyd, van 29-28 oor Eldoraigne behaal het. Middelberg het in altwee oorwinnings puik deursettingsvermoë aan die dag gelê, met Khanya Sibanyoni en Thelma Moloi wat as sleutelverdedigers op getree het met belangrike onderskeppings wat die wedstryde in hul guns laat draai het.
1ste: Menlopark
2de: Oos-Moot
3de: Transvalia
4de: Nelspruit
5de: Middelburg
6de: Ben Vorster
7de: Eldoraigne
8ste: EG Jansen
9de: Waterkloof
10de: Kempton Park
11de: HTS Middelburg
12de plek: Piet Retief
- Parkies se seisoen van glorie - 2025-10-06
- Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses - 2025-09-30
- Top-4 Rusties leef hul droom - 2025-09-29