Outeniqua se Kwaggas het skop en byt in 2020
Die Hoërskool Outeniqua op George se eerste rugbyspan behoort vanjaar weer sy man tussen die skolerugby-adel van Suid-Afrika te staan. Die Kwaggas speel jaarliks teen van die land se voorste skolespanne en laat homself altyd deeglik geld..
Die Kwaggas beskik vanjaar oor ‘n groep spelers waarmee hy nie net ‘n hele paar van die groot honde die skrik op die lyf sal jaag nie, maar ook omdop.
“Ons sien elke wedstryd as ‘n groot uitdaging. Toernooie soos Nood/Suid en Wildeklawer is ‘n voorreg om by te woon. Dan is ons interskole-wedstryde teen die twee Paarlse-skole, Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl, altyd uiters uitdagend. En dan nie om te vergeet nie die plaaslike derby teen Oakdale Landbou is ook altyd ‘n hoogtepunt,” het Piet Cloete, hoof van Outeniqua se sport, gesê.
Die Kwaggas het vanjaar heelwat ervaring in hul groep. Nie minder as ses spelers wat verlede jaar die Suidwestelike Distrikte op die Cravenweek in Bloemfontein verteenwoordig het, sal vanjaar weer vir die Kwaggas uitdraf.
Die sestal is Leon Volschenk (haker), Francois Breytenbach (flank), Chadley Josias (losskakel), Tinsley Stuurman (senter), Casten Michaels (vleuel) en Leonardo Coetzee (flank).
Daar is boonop nog drie spelers Henry Tromp (vaskopstut), Laurence Victor (vaskopstut) en Blayden Hector (heelagter) wat die Volstruisboere tydens die Akademie-week in die Rosestad verteenwoordig het.
‘n Verdere vier spelers wat verlede jaar reeds vir Outeniqua se trots uitgedraf het Johan Jordans (loskopstut), Dillan Lamprecht (slot), Schalk Vermeulen (flank) en Curtley Smith (vleuel) sal ook weer vanjaar beskikbaar wees.
Daar is ook ‘n hele paar spelers wat SWD verlede jaar op die Grant Khomo-week in Witrivier verteenwoordig het, wat vanjaar ook sterk aanspraakmakers sal wees om vir hulle ‘n plek in die eerstespan oop te speel.
Onder hulle tel die twee slotte Lahluma Dyanti en Oliver Kunz, die senters Johan Leonard en Dewanley van Rensburg, Ludik Muller (flank) en Elzaine Terblanche (haker/flank).
Dan het Maynard Gouws hom reeds in 2019 vanaf die Hoërskool Rustenburg by die Kwaggas aangesluit. Hy het egter die hele 2019-seisoen weens ‘n besering misgeloop.
Gouws het die Luiperds in 2018 as slot op die Grant Khomo-week verteenwoordig. Sy pa, Jaco Gouws, het op sy dag die Sharks en Griffons aangevoer. Hy het ook op agtsteman vir Suidwestelike Distrikte se seniorspan uitgedraf.
Gouws het na hy sy tokse opgehang het onder andere Bloemfontein Polisie en Impala se klubspanne gebrei. Gouws sr. en sy gesin woon nou in George. Gouws jr. is na afloop van die Grant Khomo-week van 2018 ook in SA Rugby se hoë-prestasie groep opgeneem.
Buiten Gouws jr. is daar nog twee spelers met bekende pa’s wat moontlik vanjaar vir die Kwaggas sal uitdraf. Johan Leonard is die seun van die voormalige Springbok-agtsteman Anton Leonard, terwyl Henry Tromp se pa met dieselfde naam op haker vir die Bokke uitgedraf het.
Die Kwaggas beskik ook oor ‘n bestuurspan om mee te spog. Die span se hoofafrigter, Abré Minnie, het voorheen al Griekwas se seniorspan gebrei. Hy het self op sy dag die middelveld vir die Poubloues beman.
Die span se twee hulpafrigters is Henry Grimes en Jaco Janse van Rensburg. Grimes het self op slot in sy loopbaan as speler vir SWD en Griekwas uitgedraf. Jandré Blom, wat vir die Vrystaat en Griffons die oond skoongemaak het, sal die span met sy skoppe en verdediging bystaan.
Anton Leonard sal hand bysit as konsultant, terwyl Walter Lutch (kondisionering) en Piet Cloete (mentor) die bestuurspan voltooi.
Beeldmateriaal danksy KwaggaTV via digitv.co.za – moet geen van die Kwaggas se wedstryde vanjaar op sy tuisveld misloop nie.
[powr-comments id=”6ba79af2_1582466125284″]
- Southern teams impress as FNB u18 Craven Week heats up - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Craven Week 2025 – Day 4 - 2025-07-10
- Free State soars as Mgedezi and Adams star in Craven Week thriller - 2025-07-10