Otto vuur Rooiskool aan tot sege oor Fichies
DIE Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se eerste rugbyspan het maklik met 48-8 oor die Hoërskool Fichardtpark op sy jaarlikse sportdag op Kroonstad koning gekraai.
Rooiskool het teen die omdraaislag 17-3 voorgeloop. Die span se flank, Gerrit Otto, het met sy kraglopies vir Fichies hoofbrekens besorg. Otto het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Die gasheer het boonop sonder sy kaptein en slot, TP Kleynhans, gespeel.
Die span se linkervleuel, Nico Potgieter, het ook twee keer gaan druk. Rooies het gewis heelwat selfvertroue ná die sege herwin nadat hulle Maandag met 14-73 teen Grey ’n stewige loesing toegedien is.
Agterlangs het die senter Kobus Kleyn goeie spel gelewer, terwyl die haker Stephen O’Donovan en voorryman David Rule voorlangs uitgeblink het.
Louis Botha het teen Waterkloof van Pretoria in seker dié wedstryd van die dag 0-15 die onderspit gedelf.
Sentraal van Bloemfontein het sy onoorwonne status sover vanjaar behou deur Witteberg van Bethlehem 31-14 die loef af te steek. Die span se haker, Ryno Gerber, was soos gewoontlik woelig en het twee keer Witteberg se doellyn oorgesteek. Die slot SJ Wessels het ook met sy spel beïndruk.
Agterlangs het die kaptein en senter, Michiel Venter, sy sterk vertonings tot dusver vanjaar voortgesit. Venter gaan vanjaar nog ’n hele paar spanne probleme besorg. Die losskakel DP de Lange en vleuel Vian Koekemoer kan ook tevrede met hul vertoning voel. Die stut Lafras Bekker het op sy 18de verjaardag een van Tralies se drieë gedruk.
Die Hoërskool Kroonstad het sy eerste oorwinning van dié seisoen behaal deur Parys 5-0 te klop. Die span se regtervleuel, Ruan Human, het sy span se wendrie gedruk.
HTS Welkom het die Hoërskool Sasolburg 29-5 in hul kragmeting op dié sportdag geklop.
Die Hoërskool Wilgerivier van Frankfort het die Leeuwenhof Akademie 33-0 in die hoofwedstryd op sy jaarlikse sportdag verslaan. Die linkervleuel, Ricardo Frade, het elke keer wat hy aan die bal gevat het, gevaarlike lopies vir die tuisspan ingekry. Die span se slot MJ Louwrens was voorlangs sy span se beste speler.
HTS Sasolburg het Welkom High 14-10 in ’n ander wedstryd op dié sportdag geklop. In die enigste ander eerstespan-kragmeting op dié dag het Kestell en Balfour 12-12 gelykop gespeel.
Puntemakers:
AHS Kroonstad 48 (17) – Drieë: Nico Potgieter (2), Gerrit Otto (2), Aldert van Wyngaardt, Henry Searle, Stephen O’Donovan, Kobus Kleyn. Doelskoppe: Jeandré Uys (4). Fichardtpark 8 (3).
Waterkloof 15 – Drieë: Zander van Wyk, Reinach Venter. Doelskop: Tinus de Beer. Strafdoel: De Beer. Louis Botha 0.
Sentraal 31 – Drieë: Ryno Gerber (2), Vian Koekemoer, Lafras Bekker, Addington Mondo. Doelskoppe: Brendon Kahts (3). Witteberg 14 – Drieë: Louis Spershott, Wiaan Pittendrich. Doelskoppe: Spershott (2).
Hoërskool Kroonstad 5 – Drie: Ruan Human. Parys 0.
HTS Welkom 29 – Drieë: André Bester, Innocent Valashiya, Jerry Malaue, Jaco Jooste. Doelskoppe: Teboho Lesholi (2), Bester. Strafdoel: Lesholi. Hoërskool Sasolburg 5.
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22