Omgekrapte Rooi Bulle in moeilike stryd teen Montana in Plaat-afdeling


Daar wag ‘n klipharde tweestryd Saterdag tussen Oos-Moot en Wesvalia van Klerksdorp in die Plaat-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup.
Oos-Moot het verlede week ‘n loesing van 8-52 teen Kempton Park op die lyf geloop. Wesvalia moes in die eerste ronde van die reeks sweet om vir Montana met 6-3 te klop. Laasgenoemde het verlede jaar nog in die Skild-afdeling van dié reeks gespeel.
Albei die spanne het vanjaar vir Hoërskool Middelburg geklop wat in die Beker-afdeling speel.
Wesvalia het die Middies met 28-22 tydens die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi geklop, terwyl Oos-Moot vir Middelburg met 21-20 in die NWU Sport-reeks uitoorlê het.
Oos-Moot sal die tuisveldvoordeel Saterdag hê. Die span se losskakel, Tersius van der Merwe, sal ‘n sleutelrol moet vertolk indien sy span die pyp sal rook.
HTS Middelburg se Rooi Bulle sal Montana Saterdag in Middelburg inwag.
Dit is ‘n ontmoeting van verlede jaar se Plaat-kampioen, HTS Middelburg, en die Skild-kampioen, Montana. Slegte nuus vir Montana se Wit Bulle is die feit dat die Rooi Bulle waarskynlik goed omgesukkel is.
Die Rooi Bulle het die afgelope twee weke twee keer op hul neus gekyk. ‘n Nederlaag van 12-27 teen Kempton Park in Virseker Noordvaal Cup asook ‘n drag slae van 10-26 teen Hoërskool Middelburg in die King Price Derby Series.
Die span van Middelburg se heelagter, Cornelius Erasmus, asook die binnesenter, Nathan Jansen van Vuuren, kan die besoekers probleme agterlangs besorg.
Montana het wel vroeër vanjaar vir Kempton Park met 29-3 tydens die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi kaf gedraf. So die Rooi Bulle se afrigter, Jano Venter, sal weet dat hierdie nie ‘n maklike kragmeting vir sy span sal wees nie.
Montana se hoofafrigter, AJ le Roux, sal hoop sy span kan vir ‘n opskudding sorg. Hy het wel al twee nederlae in die reeks gely.
Die span het teen Wesvalia met 3-6 die knie gebuig, net om ‘n week later vir Wesvalia met 32-10 in die NWU Prestige-reeks kaf te draf. Die ander nederlaag in die Plaat-afdeling was teen Hoërskool Nelspruit (31-37).
Die spanne is:
Oos-Moot t. Wesvalia om 12:30 in Pretoria:
Oos-Moot: 15 Brian Jacobs, 14 Tyrese Adams, 13 Jayden Meintjies, 12 Le Roux Smith, 11 Le-Jerick Vaughn, 10 Tersius van der Merwe, 9 Arno Badenhorst, 8 Wilson Riyaan, 7 Luhan Hay, 6 Andre Winter, 5 Ulrich Gerber, 4 Duwan Barnard, 3 Sinawo Stengana, 2 Doneal Weideman, 1 Thando Telelo.
Wesvalia: 15 Jaco Combrinck, 14 Damian Potgieter, 13 Wilson Letholi, 12 Wian du Preez, 11 Martin Bierman, 10 Kani Thakamakhoa, 9 Brandt Muller, 8 Tiaan de Kock, 7 Jean van Wyk, 6 Christiaan Swanepoel, 5 JP Hatting, 4 Dominic Kath, 3 Charl du Preez, 2 Christiaan Naudé, 1 Jason de la Harpe.
HTS Middelburg vs Montana om 13:40 in Middelburg:
HTS Middelburg: 15 Cornelius Erasmus, 14 Fourie Joubert, 13 Wynand Cronje, 12 Nathan Jansen van Vuuren, 11 Owen Mngomezulu, 10 Ruan Janse van Vuuren, 9 Ruan Pienaar, 8 Regard Blake, 7 Andrea de Wet, 6 Jayden Olds, 5 Ruben Kruger, 4 Max Venter, 3 Uzile Mathelela, 2 Jade Stimie, 1 Carlo Joubert.
Montana: 15 Edrich Strydom, 14 Daniel Bester, 13 Luan Barnard, 12 Henroe Colyn, 11 Christiaan Booysen, 10 Rubel Bester, 9 Du Preez Prinsloo, 8 Ulrich van Biljon (kaptein), 7 Shawn Moabelo, 6 Reghardt van Biljon, 5 Enrico Smit, 4 Eric Potgieter, 3 Kyle van Schalkwyk, 2 Juan Theunissen, 1 Louan Erasmus.





