Oakdale meeste spelers in Old Mutual Insure Agri XV-tal
Die gasheer van die Old Mutual Insure Agri Rugbyweek net buite Riversdal, Oakdale Landbou, het ook vanjaar die meeste spelers in die borg se XV-tal wat na afloop van die week aangekondig is. Oakdale Landbou het vier spelers Magnus Muller (loskopstut), Henco Beukes (flank), Hannes Gous (slot) en Clyde Lewis (heelagter) in die span wat verkies is.
Die span speel nie enige wedstryde nie en is slegs om erkenning aan die spelers vir hulle vertonings gedurende die week te gee. Oakdale het albei sy wedstryde gedurende die week teen onderskeidelik die Cherries van Grey-kollege (31-19) en Lichtenburg (38-0) gewen. Die gasheer was nie op die laaste dag in aksie nie, want die span kom Dinsdag tydens die Wêreld-skolerugbyfees by die Hoër Jongenskool Paarl teen ‘n Namibiese XV-tal te staan.
Die Hoërskole Rustenburg en Lichtenburg het elk ook twee spelers wat tot die span verkies is. Vir Rusties is sy haker, Gustav van Staden, asook die slot André Rossouw vir hulle goeie spel tydens die week beloon. Die Liggies se skitterende skrumskakel, Max Williamson, en vleuel Marais Oosthuizen is in die span ingesluit. Willamson het ook met die toekenning as die Beste Agterspeler van die Week weggestap.
Oakdale Landbou se flank, Henco Beukes is as die Beste voorspeler van die Week aangewys. Die Hoërskool Upington is vir sy veggees en ondernemende spel beloon deur as die span wat die mees aanskoulikste rugby tydens die week gespeel het.
Die Old Mutual Insure Agri XV-tal is:
15 Clyde Lewis (Oakdale Landbou), 14 Octavian Muller (Brandwag, Uitenhage), 13 Cole Arnoldus (Diamantveld), 12 Rocco Steyn (Cherries), 11 Marais Oosthuizen (Lichtenburg), 10 Lionel April (Hermanus), 9 Max Williamson (Lichtenburg), 8 Keenan Opperman (Montagu), 7 Henco Beukes (Oakdale Landbou), 6 Kyle van Deventer (Zwartkop), 5 Hannes Gous (Oakdale Landbou), 4 André Rossouw (Rustenburg), 3 GW Lund (Langenhoven Gimnasium), 2 Gustav van Staden (Rustenburg), 1 Magnus Muller (Oakdale Landbou).
Vorige spanne:
2017 – Oakdale meeste spelers in vanjaar se Mutual & Federal-span
2016 – Oakdale en Gimmies meeste spelers in MF XV-tal




