SuperSport Schools Plus

Nuwe kampioen in Noordvaal-reeks vir 2019 gekroon

By Hannes Nienaber , in Cricket | News , at 2019-10-27 Tags: , , , , , ,

NoordvaalKrieketDaar sal ‘n nuwe kampioen in vanjaar se Gunn & Moore Noordvaal-krieketreeks gekroon word.

In ‘n herontmoeting van verlede jaar se eindstryd het die Hoërskool Waterkloof die verdedigende kampioen, die Hoërskool Garsfontein, met 17 lopies in ‘n kwarteindstryd uitgeskakel wat deur reën beinvloed is.

Klofies het eerste gekolf en 229/7 in 38 boulbeurte aangeteken danksy vyftigtalle deur Zander Maree (80*) en Johan Harms (55). Die twee het ‘n vennootskap van 129 lopies om die sewende paaltjie gedeel. Hardus Coetzer (38) het ook ‘n waardevolle bydrae met wilgerlat in die hand gemaak.

Garsfontein moes ‘n aangepaste teiken van 133 lopies in 24 boulbeurte aanteken vir ‘n sege. Christiaan Oberholzer (54*) het met ‘n onoorwonne vyftigtal sy span ‘n kans gegee vir ‘n sege, maar die wenteiken was op die ou einde net te steil gewees.

Hans Moore se Adrian de Vries het met ‘n veelsydige vertoning sy skoolspan tot ‘n sege van 89 lopies oor Monument van Krugersdorp gehelp. De Vries (62) se vyftigtal het Hans Moore tot 217 lopies in hul kolfbeurt gehelp.

Hy het daarna ook van vyf kolwers vir slegs 22 lopies ontslae geraak. Hy was die groot doring in die vlees met die bal in die hand wat gesorg het dat Monnas vir 128 lopies uitgeknikker is. ‘n Sekere kolwer met die naam Ekstras het met 35 lopies die meeste lopies vir die span van Krugersdorp aangeteken.

Hans Moore sal Saterdag na Pretoria reis om Waterkloof in die halfeindstryd die stryd aan te sê. Die wedstryd sal regstreeks op DigiTV.co.za uitgesaai word.

Potchefstroom Volkskool het die Hoërskool Nelspruit met sewe paaltjies in hulle kwarteindstryd verslaan. Volkies se aanvangskolwers, Van Zyl Smit (52) en Niel van Vuuren (46), het met ‘n vennootskap het 120 lopies die grondslag vir die sege gelê .

Nelspruit het eerste gekolf en Rohan de Meyer (51) was die enigste kolwer wat werklik weerstand gebied het. Jannie Claassens (4/29) het met sy boulwerk die meeste hoofbrekens vir Nelspruit besorg. Hy is die seun van die voormalige Springbok-senter Jannie Claassens.

Volkies sal in die ander halfeindstryd op sy tuisveld teen Marais Viljoen van Alberton te staan kom. Die wedstryd sal ook regstreeks deur DigiTV.co.za gebeeldsend word.

Marais Viljoen het vir Merensky van Tzaneen met ‘n klinkende sege van 101 lopies uitgeskakel. Die span van Alberton het 176/7 behaal danksy bydraes deur Nathan Steyn (47), Neil Bothma (27) en Jason van Dyk (25).

Merensky kon egter net ‘n skamele 75 lopies hierop antwoord met Leander Lubbe wat ‘n vyftal paaltjies vir net tien lopies ingeoes het. Lubbe het behoorlik skade aan Merensky se kolforde aangerig, maar Tienie Rossouw was onspeelbaar vir die kolwers van Tzaneen.

Rossouw het slegs drie aflewerings in die wedstryd afgestuur en van twee kolwers ontslae geraak en nie ‘n enkele lopie in die proses afgestaan nie.

Beknopte telkaarte: 

Waterkloof 229/7 (Zander Maree 80*, Johan Harms 55; Hardus Coetzer 38; Zander Nel 3/29); Garsfontein 115/5 (Christiaan Oberholzer 56*, Edwin de Waal 38; Hardus Coetzer 1/19, Marcel Myburgh 1/21). Waterkloof wen met 17 lopies volgens die Duckworth/Lewis-metode.

Hans Moore 217 (Adrian de Vries 62, Amaan Khan 40, Ekstras 33, Juandré Johnson 32; Owen Klassen 2/39); Monument 128 (Ekstras 35, Zayne Human 22; Adrian de Vries 5/22, Juan Harmse 2/30). Hans Moore wen met 89 lopies.

Hoërskool Nelspruit 154 (Rohan de Meyer 51, Ekstras 28; Jannie Claassens 4/29, Christopher de Freitas 2/16); Potchefstroom Volkskool 157/3 (Van Zyl Smit 52, Niel van Vuuren 46, Ekstras 28; Paul Harley 3/35). Potch Volkies wen met sewe paaltjies.

Marais Viljoen 176/7 (Nathan Steyn 47, Neil Bothma 27, Jason van Dyk 25; Gerhardus Fourie 3/36, Louis Botha 2/25); Merensky 75 (Kian Loughor-Clarke 16, Nicholas Adendorf 16; Leander Lubbe 5/10, Tienie Rossouw 2/0). Marais Viljoen wen met 101 lopies.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.