Nories en Wesvalia in NWU Prestige-eindstryd

Hoërskool Noordheuwel en Hoërskool Wesvalia sê mekaar vanjaar die stryd aan in die eindstryd van die NWU Prestige-reeks.
Noordheuwel het uithalerspel gelewer om hul eweknie in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Marais Viljoen, met 44-13 pak te gee in die Prestige-reeks se een halfeindstryd.
Nories se agtsteman, “Big Brad” Brown, het die aanslag gelei en, soos hy dikwels deur die loop van die seisoen gedoen het, die span van Alberton se verdedigers knaend op die agtervoet gedruk met sy genadelose dryfspel.
Brown, wat hand opsteek om later vanjaar die Goue Leeus by die Cravenweek te verteenwoordig, is met twee drieë beloon.
Die Nories-pak het as ‘n eenheid die grondslag gelê vir skrumskakel, Ignathius Jantjies, om die gevaarlike agterlyn, waaroor die Krugersdorpers beskik, los te laat. Hul twee drieëvrate, Lindsay Jansen (linkervleuel) en Cheswill Jooste (buitesenter), het elk ‘n verdere vyfpunter op hul onderskeie kerfstokke geplaas, terwyl Jantjies self ook gedruk het.
Hoërskool Wesvalia het hul plek in die eindstryd teen die Nories met ‘n oortuigende sege van 30-17 oor Hoërskool Pietersburg verseker. Die Pieties was teen rustyd nog aan die stuur van sake en het ‘n voorsprong van 12-6, te danke aan drieë deur skrumskakel, Divan Brown, en linkervleuel, Dustin Terblanche, geniet.
‘n Driekuns aan drieë deur die span van Klerksdorp se steelkantflank, Francois Dumond, het egter ‘n ommeswaai in momentum bewerkstellig, met Wesvalia wat vir die span van Pietersburg daarna deurentyd onder knaende druk geplaas het. Binnesenter, Rickardt van Heerden, se skopskoen het oudergewoonte ook ‘n rol gespeel, en hy het met twee doelskoppe en twee strafdoele die telbord laat aanhou rol.
Hoërskool Hugenote van Springs se agtsteman, Hendrik Eybers, en haker, Luan Pretorius, het elk ‘n tweekuns behaal in hul span se oorwinning van 45-26 oor Hoërskool Jeugland. Die tuisspan se voorspelers het die oorhand voorlangs geniet, met ál vyf drieë, insluitende een, deur slot, Xavier Ungerer, wat deur die grootmanne voor aangeteken is.
Hoërskool Rustenburg het met slegs ‘n enkele punt oor Hoërskool Lichtenburg geseëvier, met losskakel, Jayden Meyer, se skopstewel die enigste verskil tussen die spanne van Noordwes. Dié uitslag sou egter heelwat vertroue vir die Liggies ingeboesem het, in die aanloop tot hul veldtog in die Noordvaal se Skild-afdeling wat voorlê.
Puntemakers:
Noorheuwel 44 (33) – Drieë: Brad Brown (2), Jared Coetzee, Cheswill Jooste, Ignathius Jantjies, Lindsay Jansen, Jeandé Uithaler. Doelskoppe: Uithaler, Jade Muller. Stafdoel: Uithaler. Marais Viljoen 13 (3).
Wesvalia 30 (6) – Drieë: Francois Dumond (3), Justin Adams. Doelskoppe: Ricardy van Heerden (2). Strafdoele: Van Heerden (2). Hoërskool Pietersburg 17 (12) – Drieë: Divan Brown, Dustin Terblanche, Hanno van Zyl. Doelskop: Divan Brown.
Hugenote (Spings) 45 (30) – Drieë: Hendrik Eybers (2), Luan Pretoius (2), Xavier Ungerer. Doelskoppe: Corne Prinsloo (4). Strafdoele: Prinsloo (4). Jeugland 26 (21).
Rustenburg 31 – Drieë: Jayden Meyer, Dirk Huisamen, Hendre Robinson, Janre Jefthas, Zulu Khumalo. Doelskoppe: Jayden Meyer (3). Lichtenburg 30 – Drieë: Eddie du Preez (2), Tiaan Booysen, JJ Jonker.
- Results – Academy Week – Day 2 - 2025-07-09
- Rampant Lions rack up century against Griffons in Middelburg - 2025-07-07
- WP looking dangerous on Day 1 of Academy Week - 2025-07-07