‘n Saterdag van opskuddings in Suid-Afrikaanse Skolerugby
Dit was ‘n Saterdag ‘n dag vol skolerugby opskuddings.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het op sy tuisveld met ‘n sege van 29-26 vir die eerste keer sedert 2012 daarin geslaag om vir Paarl Gimnasium te klop.
Die laaste keer wat Affies oor Paarl Gimnasium baas was, was die Skotse-voorryman Pierre Schoeman sy kaptein en die Bok-losskakel Handré Pollard het Gimmies aangevoer. Dié telling was destyds 27-20 in Affies se guns in die wedstryd wat op die Wildeklawer-toernooi in Kimberley beslis was.
Oakdale Landbou het op sy tuisveld net buite Riversdal daarin geslaag om Grey-kollege tot ‘n gelykop-uitslag van 17-elk te hou. Dit is die eerste keer wat die span van die Rosestad nie daarin kon slaag om Oakdale te klop nie.
Rondebosch Boys’ High het vir die eerste keer sedert 1997 daarin geslaag om die Hoër Jongenskool Paarl te verslaan. Die span van Kaapstad was met 21-19 baas. In 1997 was die gewese Springbok-senter Gcobani Bobo nog as ‘n flank aan die voorpunt van Rondebosch se sege.
Bishops het amper vir die tweede agtereenvolgende jaar daarin geslaag om vir Paul Roos te verslaan. Die twee spanne het met 38-elk gelykop in die Markotter-stadion in Stellenbosch gespeel.
Die tuisspan se slot Daniel Marais het met slegs drie minute oor gaan druk om sy span ‘n kans te gee om sake gelyk te trek. Die heelagter, Christoff de Bruyn, het met die doelskop sake gelyk getrek.
Terug na Affies se sege oor Paarl Gimnasium. Die Wit Bulle se haker, Hanro Venter, het ‘n driekuns aan drieë in die sege vanaf rolmale behaal. Dit was egter die stut Zack Maritz se drie wat die sege beklink het.
Paarl Gimnasium sou voel dat hul aan stuur van sake was met die telling wat op ‘n stadium 26-10 in sy guns was. Gimmies se kaptein en binnesenter, PA van Niekerk, kan tevrede met sy vertoning voel.
Buiten Venter het sy losskakel en kaptein, Stehan Heymans, ook ‘n goeie dag op kantoor beleef. Heymans is die seun van die voormalige Wes-Transvaal en Oostelike Provinsie senter Fanie Heymans.
Al die opskuddings maak dat die komende naweek se wedstryde tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley heelwat meer op die spel sal hê as voor Saterdag se wedstryde.
Durban High School het sy goeie spelpeil voortgesit en vir Maritzburg College met 38-14 kaf gedraf. Outeniqua se Kwaggas het nie veel probleme ondervind om die Hoërskool Durbanville met 48-7 te verslaan, terwyl Boland Landbou ook tevrede met sy sege van 39-22 oor SACS sal voel.
Die Hoërskool Piet Retief is die nuwe kampioen van die NWU 16-reeks na hy vir Wolmaransstad in ‘n klipharde eindstryd in Potchefstroom met 27-23 verslaan het.
Die span se vleuel Buhle Thusi is na afloop van die wedstryd as speler van die wedstryd aangewys. Die span se losskakel, Zander Coetzee, het met sy skopskoen ook ‘n beduidende rol in die oorwinning gespeel.
FOTO: William Brown
AL DIE UITSLAE:
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Hoërskool Trio 39, Goudveld-Hoërskool 7; Welkom Gimnasium 24, Voortrekker 19; Witteberg 29, Hentie Cilliers 0; Sentraal 31, Louis Botha 10; Hennenman 39, Bultfontein 14; Riebeeckstad 27, HTS Welkom 14; Hoopstad 64, Welkom High 0; Brandfort 13, Sand du Plessis 12.
NOORDVAAL
Blou Bulle: Affies 29, Paarl Gimnasium 26; Menlopark 24, Transvalia 17; Centurion 47, Sutherland 0; Eduplex 12, Silverton 7.
Goue Leeus: Monument 38, Hoërskool Nelspruit 16; King Edward VII 31, Pretoria Boys’ High 25; Northcliff 45, Randpark 20.
Limpopo: Hoërskool Pietersburg 20, HTS Tom Naudé 19; Frikkie Meyer 60, Piet Potgieter 7; Merensky 48, Hans Strijdom 3, Ellisras 27, Ben Viljoen 20; Frans du Toit 34, Eric Louw 17; Curro Heuwelkruin 44, Stanford Lake College 12; Nylstroom 39, Ben Vorster II 5; Warmbad 60, Ellisras III 0.
Pumas: HTS Middelburg 33, Ermelo 12; Lydenburg 42, HTS Witbank 5; Ligbron Akademie 39, EG Jansen II 19.
Valke: Kempton Park 19, Eldoraigne 14.
OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL
Framesby 50, HTS Daniël Pienaar 6; Marlow Landbou 38, Hoërskool Grens 0; Queen’s College 20, Dale College 13; Westville Boys’ High 15, Jeppe 0; Michaelhouse 38, Northwood 18; Glenwood 31, Kearsney College 10; Durban High School 38, Maritzburg College 14; Hilton College 66, St. Charles College 3; Nico Malan 33, Despatch 17; Brandwag (Uitenhage) 27, Muir College 14.
WES-KAAP
Rondebosch Boys’ High 21, Hoër Jongenskool Paarl 19; Bishops 38, Paul Roos 38; Oakdale Landbou 17, Grey-kollege 17; Outeniqua 48, Durbanville 7; Boland Landbou 39, SACS 22; Stellenberg 37, Hoërskool Bellville 0; Wynberg Boys’ High 57, Parel Vallei 0; Robertson 19, Bredasdorp 16; Langenhoven Gimnasium 26, Hoërskool Stellenbosch 13; Charlie Hofmeyr 33, Overberg 24; Strand 14, Tygerberg 12.
NWU PRESTIGE-REEKS
Noordheuwel 21, Die Anker 10; Hoërskool Middelburg 22, Hoërskool Rustenburg 17; Wesvalia 26, Jeugland 7; Lichtenburg 18, Heidelberg Volkskool 17; Montana 48, Hugenote (Springs) 0; Oos-Moot 43, Zwartkop 24; Potchefstroom Volkskool 31, Oosterlig 5; Potchefstroom Gimnasium 12, Marais Viljoen 5.
NWU SPORT-REEKS
Randburg 32, Hans Moore 18; Florida 44, Driehoek 10; Dinamika 22, Standerton 12; Wonderboom 27, Hoërskool Alberton 22.
NWU 16-REEKS
Piet Retief 27, Wolmaransstad 23; Pionier 14, Fochville 12; Vryburg 26, Ferrum 7; Pretoria-Noord 24, Leeuwenhof 19; Riebeeckrand 24, Stofberg 7; Bekker 19, Oosterland 10; Delmas 50, Schoonspruit 8.
[powr-comments id=”3490b74c_1650785106261″]




