SuperSport Schools News

Monnas, Jansies en Garsies gee pas aan in Tuks-reeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-04-10

NewsG NelspruitAs daar een span is wat die Hoërskool Monument van Krugersdorp die afgelope paar jaar op gereelde grondslag teen sukkel is dit die Hoërskool Kempton Park.

Monnas het die kragmeting tussen die twee spanne in die Tuks-reeks met 43-16 gewen, maar maklik was dit nie. Kempies het tot laat in die tweede helfte ’n voorsprong van 9-5 geniet. Monnas se kaptein en haker, PJ Botha, het net voor rustyd oorgeval om aan sy span met die omdraaislag ’n voorsprong van 10-9 te geniet.

Kempies het hope durf gewys, maar op die ou einde het Monnas met sy groter spelers al hoe meer gate gevind soos die wedstryd gevorder het. Veral Kempies se flank Marco Ueckermann en die buitesenter, Cobus Hattingh, het reuse werk vir hul span verrig.

Botha het sy skitter vertonings tot dusver vanjaar op die rugbyveld voorgesit. Hy is ’n sterke derduiwel in die los en sy ingooiwerk is van hoogstaande gehalte. Hy is waarskynlik die beste haker op skolevlak sedert Malcolm Marx in 2012 aan King Edward VII gematrikuleer het.
Monnas se slot Ruan Vermaak en agtsteman, Cristen van Niekerk, het ook die bal goed gedra en telkens oor die voordeellyn gekom.

EG Jansen stoom steeds voort in sy poging om vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar as kampioen van die Tuks-reeks gekroon te word. Die span van Boksburg het Menlopark met 45-3 verslaan om sy onoorwonne status in die reeks te behou. Jansies se losskakel, Ruben Beytell, het ’n driekuns aan drieë behaal.

Garsfontein het 13 drieë in ’n wegholsege van 71-0 oor Marais Viljoen op sy tuisveld, Berepark in Pretoria, gedruk. Garsies se heelagter, Abner van Reenen, was soos gewoontlik op sy stukke op die aanval. Die agtsteman, Luke Fortuin, en die losskakel, Austin Davids, het ook blink vertonings opgedis.

Eldoraigne het HTS Middelburg se Rooi Bulle met 28-22 op sy tuisveld in Pretoria geklop. Sy skrumskakel, Christiaan Claassen, was aan die spits van sy span se aanslag voor hy weens ’n besering gedwing is om die veld te verlaat.

Grey-kollege het Maritzburg College met 60-13 in Bloemfontein uit die pad gestamp. Die span van die Rosestad het dalk duur vir die sege betaal met die losskakel, Mario Vieira, senter Gerrie Koegelenberg en die stut Tristan Spies wat die veld weens beserings verlaat het.

Grey se agttal het die grondslag vir die sege gelê. Hy het in die skrums en die lynstane die oorhand gehad. Die lostrio van Dian Schoonees, Arno Nieuwoudt en Wihan Klopper vul mekaar goed as kombinasie aan.

Agterlangs het die heelagter, Jandré de Beer, ’n hele paar keer goeie lopies ingekry, terwyl sy posisionele spel ook uitstaande was.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.