SuperSport Schools News

Monnas en Jonathan looi Florida

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-06-18

31392 VS SCHOOL OF RUGBY HEADER v1

NewsMonnasFloridaMonument van Krugersdorp se losskakel, Jonathan Viljoen, het behoorlik tong vir die Goue Leeus se keurders in sy span se weghol-oorwinning van 89-3 oor Florida uitgesteek.

Viljoen word deur die Leeus se keurders as slegs die vyfde beste in die provinsie geag. Hy het egter in die week op die Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp weer gewys dat hy gewis ‘n aanwins vir die Cravenweek-span sou wees. Viljoen het slegs een van sy span se 13 drieë in die wedstryd nie verdoel nie vir ‘n persoonlike bydrae van 24 punte. Sy spanmaats het dit ook nie vir hom maklik gemaak nie, meeste van die doelskoppe het hy vanaf die kantlyn oorgeklits.

Viljoen was ‘n ware generaal in die oorwinning. Hy het met ‘n perfek geplaasde steekskoppie een van Dandré Prinsloo se aangevoor. Prinsloo het vanuit die laaste vesting vir die tweede agtereenvolgende week ‘n driekuns aan drieë behaal.

Prinsloo het sy direkte teenstander Tino Swanepoel, wat vir die Leeus se Cravenweek-span op vleuel uitdraf, oorskadu. Swanepoel was egter steeds Florida se beste speler op die dag en het ‘n hele paar belowende lopies ingekry. En Prinsloo het gewis die voordeel gehad dat sy span die meeste van die balbesit en gebiedsvoordeel geniet het.

Monnas het met dié slagting van sy plek bo-aan die Leeus/Valke en Luiperds se liga seker gemaak. Die span van Krugersdorp kom Saterdag in sy laaste wedstryd van die liga teen die Hoërskool Rustenburg te staan.

Monnas weet ook reeds dat hulle teen HTS Middelburg in die kwarteindronde van die Virsekerbeker te staan sal kom. Die Wit Bulle het al vanjaar twee keer teen die Rooi Bulle koppe gestamp en was albei kere met onderskeidelik (14-12) en (40-8) baas.

Noordheuwel van Krugersdorp het ‘n naelskraapse sege van 27-26 oor Hugenote van Springs in hulle Makroskole-ligawedstryd behaal.

Die Hoërskool Alberton het op ‘n spreekwoordelike piesangskil in die halfeindtryd van die Goue Leeus se Grootskole-liga teen Dinamika gegly. Dinamika het die Alberton-derby met 5-0 as oorwinnaars uit die stryd getree om sy plek in die eindstryd te bespreek.

Alberton het vroeër vanjaar in dié ligawedstryd tussen die twee spanne gemaklik met 34-7 koning gekraai. Die Hoërskool Linden het regstreeks tot die eindstryd deurgedring. Die kampioen van die Leeus se Grootskole-liga sal tot die Virsekerbeker deurdring. Helpmekaar-kollege dring reeds regstreeks vanjaar as die Leeus se naaswenner tot die streekkompetisie deur.

Bekker van Magaliesburg sal Trinityhouse in die Leeus se Mediumskole-eindstryd pak. Hy het verlede jaar se kampioen, Fochville, oortuigend met 45-20 in die halfeindronde verslaan. Die wenspan se woelige haker, Conner Ezstergomi, het twee keer die doellyn oorgesteek.

Trinityhouse het in die ander halfeindstryd vir Leeuwenhof met 43-19 geklop.

Die Vrystaatse o.18-rugbyspan se flank en Grey-kollege se kaptein, Marcell Theunissen, het vier keer Saterdag die doellyn in die span se klinkende sege van 69-10 oor sy eweknie van Griekwa-platteland in Welkom oorgesteek.

Die Griffons kan vanjaar dalk weer ‘n goeie Cravenweek beleef as hulle die vertoning van gister teen Griekwas kan herhaal. Die Perses het met 57-7 as oorwinnaars van die veld gestap. Dit was veral die span se heelagter, Andrew Kota, wat met sy aanvallende spel te veel vrae aan die Poubloues gevra het. Virlyn van Vollenhoven het ook ‘n uitmuntende vertoning gelewer. Hy het eers op vleuel en daarna in die middelveld sy kant gebring.

Die Perses se twee afrigters, Roean Bezuidenhout en Nico Pretorius, sal ook baie tevrede voel oor hul agttal se vertonings in die skrums sowel as die lynstane.

Die Griffons het Dinsdag teen die Valke met 7-5 in die Isak Steyl-stadion in Vanderbiijlpark die knie gebuig. Die span het dus goeie rede om tevrede met sy vertoning teen Griekwas te voel.

Tydens die grootste dag in skolerugby in Grahamstad het St Andrew’s College nie veel genade vir Kingswood College betoon nie. Saints het die wedstryd met 72-5 gewen met sy losskakel, Matt More, wat vier keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak het.
Kingswood het die afgelope twee jaar die oorhand gehad, maar Saints het die bordjies behoorlik verhang.

Frans du Toit van Phalaborwa het in Limpopo se Middelskole-liga vir Warmbad met 25-17 getroef. In nog ‘n Middelskole-wedstryd in die Luiperds-liga was Schweizer-Reneke met 48-3 te sterk vir Wolmaransstad.

Die Wilgers van Pretoria het sy plek in die eindstryd van die Blou Bulle se Mediumskole-liga met ‘n sege van 55-15 oor Gerrit Maritz bespreek. Hulle sal in die eindstryd teen Pretoria THS te staan kom.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.