SuperSport Schools Plus

Midstream, Randburg verhang bordjies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-27

Midstream College het die bordjies teen Die Wilgers in die eindstryd van die Blou Bulle se mediumskole-liga op Loftus Vers­feld in Pretoria verhang.

Midstream het met 31-22 koning gekraai nadat Die Wilgers die ligawedstryd tussen dié twee spanne vroeër vanjaar naelskraaps met 31-30 gewen het.

Die verloorspan se agtsteman, André Oerson, is met twee drieë vir sy kragtige lopies beloon. Die slot Zandré Muller het ook voorlangs inklimspel gelewer.

Agterlangs het die losskakel, Stian Joubert, en die senter Chad Sias ook blink vertonings gelewer.

■ Ashton Swart, heelagter van die Pretoria Technical High School, het sy span die titel as kampioen van die Blou Bulle se medium ­skole met ’n drie in die doodsnikke van hul wedstryd teen Hercules op Loftus Versfeld besorg. Die telling was 20-13.

Swart het ’n los bal opgeraap nadat sy direkte teenstander, Christo Erasmus, die bal vanuit die hand mis geskop het. Erasmus was ondanks dié flater steeds uitstekend in die verloorspan.

Die wenspan se flank Mlondi Nxolo verdien ook ’n klop op die skouer vir sy vertoning in die eindstryd. Vir Hercules het sy senter Dean Nel, slot Hanco Benadé en stut Frederik Erasmus goed vertoon.

■ Die Hoërskool Randburg het ook die bordjies teen Linden in die Leeus se eindstryd vir groot skole verhang. Randburg het Linden Saterdag in die UJ-stadion met 27-15 die loef afgesteek. In die twee spanne se kragmeting vroeër vanjaar was Linden met 36-20 baas.

Helpmekaar sal as die Leeus se naaswenner die Beeld Noordvaal Trofee betree.

Oos-Moot is as nuwe kam­pioen van die Blou Bulle se groot skole gekroon deur in die eindstryd met 20-12 oor Overkruin koning te kraai.

■ In die Valke se grootskole- eindstryd het die Heidelbergse Volkskool die titel as kampioen verower deur Hugenote van Springs met 21-14 in die Isak Steyl-stadion in Vanderbijlpark te troef.

Brandwag van Benoni het met 10-6 teen Stoffberg in die eindstryd vir medium skole vasgeval, terwyl Parys vir Belvedere met 26-17 in die middelskole-eindstryd verslaan het.

Heilbron se vleuel TJ Janse van Rensburg was aan die voorpunt van sy span se sege van31-12 oor Balfour in die eindstryd vir klein skole. Janse van Rensburg het in die tweede helfte na die middelveld geskuif en drie keer die doellyn oorgesteek.

Balfour het by die omdraaislag nog ’n skamele voorsprong van 7-5 gehad.

Die Hoërskool Pietersburg het Ben Vorster van Tzaneen in die eindstryd vir groot skole met 48-19 verslaan. Ben Vorster kan egter steeds nie onderskat word in die stryd om die Beeld Noordvaal Trofee nie.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.